Minstens 62 sterf tydens selfmoord-bomaanval in Pakistan

Roubeklaers ná ʼn bomaanval by ʼn Sjiiet-moskee in Peshawar (5 Maart 2022) (Foto: Abdul Majeed/AFP)

Minstens 62 mense is dood ná ʼn selfmoord-bomaanval by ʼn Sjiiet-moskee in die noordweste van Pakistan. Die polisie het Saterdag gesê hulle sal die aanvaller probeer uitken uit twee voete wat op die toneel gevind is.

Polisie het kringtelevisiebeeldmateriaal vrygestel van Vrydag se aanval. ʼn Man, geklee in ʼn tradisionele salwar kameez, het twee polisiebeamptes geskiet voor hy die moskee in Kocha Risaldar, Peshawar, betree het.

Hy het ʼn selfmoord-baadjie laat afgaan tussen ʼn skare mense net oomblikke voor Vrydaggebede begin het.

Die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval.

“Daar is sewe liggame wat nie uitgeken kan word nie, insluitend twee geamputeerde voete wat vermoedelik aan die aanvaller behoort het,” het Muhammad Ijaz Khan, hoof van die polisie in Peshawar, aan AFP gesê. “Ons sal DNS-toetse doen om die identiteit van die aanvaller te bevestig.”

Die dodetal het deur die loop van Vrydagaand tot 62 gestyg, insluitend sewe kinders jonger as 10.

Dit is die dodelikste aanval sedert Julie 2018 toe ʼn ontploffing by ʼn verkiesingsveldtog die lewens van 149 mense geëis het. Die Islamitiese Staat het gesê hulle is ook vir dié aanval verantwoordelik.

Ijaz sê beamptes gaan biometriese data na van persone wat onlangs van Afghanistan na Pakistan gereis het, waar die IS vroeër aanvalle beplan het.

Peshawar, slegs 50 km van die grens met Afghanistan, was in die vroeë 2010’s gereeld ʼn teiken van militante, maar sekuriteit het die afgelope paar jaar baie verbeter.

Die Sunni-meerderheid Pakistan het onlangs ʼn oplewing van die Taliban, Tehreek-e-Taliban Pakistan (TTP) beleef.

ʼn Maand lange vredesooreenkoms was nie verlede jaar suksesvol nie en daar is kommer dat die TTP, wat Sjiiete Moslems in die verlede geteiken het, opnuut bemoedig is deur suksesse van die Afghan Taliban.

Die ontploffing kom op die eerste dat van ʼn kriekettoetswedstryd in Rawalpindi tussen Pakistan en Australië. Australië het in byna 25 jaar nie na Pakistan gereis nie weens kommer oor veiligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.