Minstens 63 dood by Kaboel-troue

Die saal in Kaboel, Afghanistan waar die bom afgegaan het (Foto: AP Photo/Rafiq Maqbool)

Minstens 63 persone is dood tydens ʼn ontploffing by ʼn troue in Kaboel, Afghanistan. Owerhede het bepaal dit was ʼn selfmoordbomaanval.

Nasrat Rahimi, woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake, het Sondag gesê altesaam 182 persone is Saterdagaand in die voorval beseer. Vroue en kinders is onder die slagoffers.

Dit is die dodelikste aanval in Afghanistan vanjaar.

Die troue is gehou in die Dar-ul Aman-straat, waar die strate tans snags verlig is met helderkleurige liggies vir die 100ste herdenking van Afghanistan se onafhanklikheid.

Sediq Seddiqi, woordvoerder vir die Afghaanse president Ashraf Ghani, het op Twitter gesê hy is “platgeslaan deur die nuus van ʼn selfmoordbomaanval”. Abdullah Abdulla, uitvoerende hoof van die regering, het die aanval “ten sterkste veroordeel”.

ToloNews, ʼn plaaslike TV-nuuskanaal, het ʼn foto gepubliseer van familielede wat grafte grawe vir 14 lede van een familie wat in die bomaanval dood is.

Die saal in Kaboel, Afghanistan waar die bom afgegaan het (Foto: AP Photo/Rafiq Maqbool)

Jawad Jalali, ʼn fotograaf van die Italiaanse NGO Emergency wat ʼn hospitaal in Kaboel bedryf, het met ʼn ma gepraat wie se man en twee seuns by die troue was. “Ek het my seun vandag pak gegee omdat hy stout was, ek wens ek het dit nie gedoen nie!”

Die vrou het, aldus Jalali, haar bewussyn by die hospitaal verloor toe die lys van name van die oorledenes gelees is.

Geen groep het tot dusver aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval nie.

Zabihullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, het ontken dat die groep betrokke was by die aanval. Hy het die aanval veroordeel.

Dit is die 17de aanval sedert die begin van die jaar in Kaboel. Minstens 176 persone is dood en 914 persone beseer in die aanvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grobler Steyn ·

Snaaks dat mense op die onbenulligste nuus kommentaar lewer maar hierdie is n menslike ramp dink net as jy 14 van jou gesin moet begrawe ek het nie die krag vir so-iets nie

Ewald ·

Stem saam. So hartseer en onnodig. Dit was veronderstel om 1 van die gelukkigste dae van joù lewe te wees as jy trou…dan kom n malletjie en verwoes so baie mense se lewens.

Gert van Wierdapark ·

Die wereld is in chaos en skynbaar word niks en niemand ontsien om die chaos te help saai nie!

De Villiers ·

Dit is so tragies. Dis net ironies dat ń organisasie soos die Taliban hierdie terreuraanval veroordeel.

George in Bloem ·

Absoluut hartverskeurend en siek. Soveel mense vermoor vir wat? Daar is absoluut geen regerdiging vir sulke gekheid nie.

Db ·

S.A. is ‘n vulletjie as gekyk word wat in die wêreld aangaan. Die wreedheid het nes kom skop en sal nie stop of uitgeroei word nie. Mense – hou julle harte en gedagtes skoon want die einde is nie vêr nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.