Minstens 65 sterf in Algerië-veldbrand

Rook van ʼn veldbrand naby Kabylie, oos van die hoofstad Algiers (10 Augustus 2021) (Foto: Ryad Kramdi/AFP)

Brandbestryders, soldate en siviele vrywilligers is Woensdag steeds besig om brande te bestry oor noordelike Algerië. Minstens 65 persone is reeds dood.

Abdelmadjij Tebboune, Algerynse president, het drie dae van nasionale rou afgekondig wat Donderdag begin. Owerhede sê hulle vermoed brandstigting omdat soveel brande in so ʼn kort tydjie uitgebreek het.

Minstens 28 van die persone wat gesterf het, was soldate wat ontplooi is om nooddienste by te staan om die meer as 50 brande te bestry wat sedert Dinsdag uitgebreek het, het die openbare uitsaaier berig.

Verskeie inhegtenisnemings is aangekondig, maar die identiteit van die verdagtes of moontlike motief is nog nie bekendgemaak nie.

Foto’s van inwoners en vee wat vasgekeer is word op sosiale media gedeel met pleidooie om hulp.

AFP-verslaggewers het gesien hoe inwoners desperaat probeer om brande met besems te bestry in ʼn poging om hul huise te red.

Sterk wind het ook die brande laat versprei in droë toestande wat veroorsaak is weens ʼn hittegolf in Noord-Afrika en die groter Mediterreense streek, het Youcef Ould Mohamed, hoof van die brandweer, aan die staatsbeheerde APS-nuusagentskap gesê.

Veldbrande woed steeds oor 17 provinsies heen, het Nassim Barnaoui, woordvoerder van die nooddienste, aan verslaggewers gesê.

Meeste van die brande en 16 sterftes is in Tizi Ouzou-distrik aangemeld. “Ek het al my vee in my dorp agtergelaat en na Tizi Ouzou gevlug met my vrou en drie kinders,” het Abdelhamid Boudraren, ʼn winkelier van Beni Yeni, gesê. “Gelukkig het ek ʼn woonstel in Tizi Ouzou, en ek en my gesin is nou hier vasgekeer saam met ons bure.”

Daar is toenemende versoeke vir kos en medikasie na distrikte wat die ergste deur die brande geraak is.

ʼn AFP-korrespondent het Woensdag verskeie vragmotors gesien wat na Tizi Ouzou op pad is met hulpbronne wat deur die publiek geskenk is.

Jean-Yves le Drian, minister van buitelandse sake van Frankryk, het gesê die land “is op bystand” om ondersteuning te bied en op Twitter “die solidariteit van Frankryk met die mense van Algerië” bevestig.

Die Britse ambassade in Algiers het hul meegevoel betuig met diegene wat gesterf het, beseer is of deur die brande geraak is.

Staatsmedia het gesê minstens vier persone is in hegtenis geneem op aanklag van brandstigting.

Meteoroloë verwag dat die hittegolf in Noord-Afrika nog tot die einde van die week kan voortduur waar die kwik in Algerië tot 46 gestyg het. In Tunis, Tunisië, langs Algerië, is ʼn rekordtemperatuur van 49 grade Dinsdag aangeteken. Die Tunisiese nooddienste het 15 veldbrande in die noorde en noordweste aangemeld, maar niemand is beseer nie.

Turkye het agt sterftes en Griekeland het drie sterftes aangemeld weens veldbrande wat die afgelope twee weke woed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.