Minstens 7 dood ná tornado’s in Tennessee

‘n Man bekyk Dinsdag die skade in Nashville, Tennessee, nadat ‘n tornado die stad getref het. (Foto: Mark Humphrey, AP)

Minstens sewe mense is dood nadat twee tornado’s Maandagnag die Amerikaanse deelstaat Tennessee getref het. Twee van dié sterftes is in die hoofstad Nashville aangemeld.

Sowat 44 000 mense is Dinsdagoggend sonder elektrisiteit gelaat met talle geboue wat deur die tornado’s beskadig is. Dit sluit die John C Tune-lughawe in Nashville in. Groot skade is veral in die voorstad Mt. Juliet, oos van Nashville, aangerig.

“Ons gemeenskap word erg geraak deur die tornado’s. Verskeie huise is beskadig, mense is beseer en nog mense is vasgekeer. Ons het hulp nodig,” het kapt. Chandler van die plaaslike departement van polisie gesê.

‘n Man bekyk Dinsdag die skade in Nashville, Tennessee, nadat ‘n tornado die stad getref het. (Foto: Mark Humphrey, AP)

Volgens die brandweerdiens in Nashville is sowat 40 strukture in dié stad beskadig. Sowat 20 mense is ook tans in ’n hospitaal in die stad weens die tornado’s of gepaardgaande storms.

Skole, howe en vervoerstelsels is vandag in Nashville gesluit hoewel stemlokale by skole oop bly vir die publiek. Vier stemlokale is wel na ander plekke geskuif.

Tennessee is een van 14 Amerikaanse deelstate wat in Super Dinsdag stem vir ’n Demokratiese kandidaat vir November se presidentsverkiesing .

Minstens vyf tornado’s is in drie Amerikaanse state aangemeld: Tennessee, Missouri en Kentucky.

Bronne: BBC, CNN, ABC News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.