Minstens 79 sterf in tronk-oproer

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Minstens 79 gevangenes is dood in gelyktydige oproerigheid by vier tronke in Ecuador, het beamptes Woensdag gesê. Die oproerigheid word toegeskryf aan bende-oorloë.

Die SNAI-tronkowerheid het gesê hy het weer beheer geneem van die tronke wat gesamentlik meer as tweederdes van die Suid-Amerikaanse land se gevangenes huisves. Die weermag is ook ontplooi om die oproerigheid te bestuur.

Die SNAI het in ʼn verklaring gesê 37 gevangenes is by twee tronke dood in Guayaquil, 34 by ʼn tronk in Cuenca en agt in Latacunga. Talle gevangenes, insluitend korrektiewe beamptes, is beseer. Geen tronkbewaarders of polisiebeamptes is dood nie.

Die kantoor van Ecuador se openbare verdediger, ʼn entiteit soortgelyk aan ʼn ombudsman wat vir menseregte baklei, het die voorval “ʼn ongekende slagting” genoem en gesê hy is “besorg oor die gebrek aan sekuriteit in die land, wat gesien kan word in die toename in misdaad en geweld in die gevangenisse”.

Pres. Lenin Moreno het intussen die ministerie van verdediging opdrag gegee om “streng wapenbeheer” toe te pas by die land se gevangenisse. Hy het verlede jaar ʼn 90 dae-noodtoestand in die land se tronke afgekondig om bendebedrywighede onder beheer te bring en die geweld te verminder. Minstens 103 gevangenes is verlede jaar in tronke dood, aldus die ombudsman se kantoor.

Die regering het tydens die Covid-19-pandemie besluit om persone met geringe oortredings se vonnisse te versag en oorbevolking is van 42% tot 30% verlaag. Dit beteken egter steeds dat Ecuador se korrektiewe dienste, wat ʼn kapasiteit het om 29 000 gevangenes in sowat 60 fasiliteite te huisves, ʼn bevolking van 38 000 gehad het. Daar is 1 500 tronkbewaarders wat na hulle omsien – ʼn tekort van sowat 2 500, en die SNAI het vroeër gesê dit “verhinder onmiddellike reaksie” op gereelde betogings in die tronke.

Moreno het Dinsdag die oproerigheid toegeskryf aan “kriminele organisasies” wat “gelyktydig geweld in verskeie tronke veroorsaak het”.

Die SNAI het gesê dit is ʼn voortgesette grensgeveg tussen georganiseerde bendes soos Los Pipos, Los Lobos en Tigrones. Hulle misdadige aktiwiteit, soos dwelmhandel, word uit die tronk bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.