Minstens 8 sterf weens orkaan Grace

Skade weens orkaan Grace in Tecolutla, Veracruz in Mexiko (21 Augustus 2021) (Foto: Victoria Razo/AFP)

Orkaan Grace het reeds minstens agt mense, insluitend vyf kinders van dieselfde gesin, se lewe geëis toe dit Saterdag deur oostelike Mexiko beweeg het. Die orkaan het oorstromings, modderstortings en skade aan huise en ondernemings tot gevolg gehad.

Die storm het Mexiko as ʼn kategorie 3-storm getref met wind van tot 200 km/h. Dit het effe afgeneem toe dit oor die binneland beweeg het, maar grootskaalse skade is aangerig.

In Xalapa, die hoofstad van Veracruz, is strate in modderriviere omskep. Sewe mense is hier dood en nog een in Poza Rica, het Veracruz-goewerneur Cuitlahuac Garcia tydens ʼn perskonferensie gesê.

Die slagoffers sluit ʼn ma en vyf van haar kinders in. Hulle is begrawe toe ʼn heuwel op hul huisie neergestort het. “Ek het ʼn harde slag op die dak gehoor en na buite gestap om ondersoek in te stel,” het die pa, Adan Moreno, gesê wat die tragedie sien gebeur het. “Ek kon hoor hoe die aarde inmekaarsak. Die heuwel het meegegee en my gesin was almal daar onder – my vrou en ses kinders,” het hy in ʼn baie emosionele toestand aan AFP gesê.

Hy het deur die modder gegrawe met behulp van ander familielede, maar slegs een kind is lewend uitgehaal.

Sy vrou en vyf ander kinders, insluitend ʼn twee weke oue babadogtertjie, het nie oorleef nie.

Die strate van Tecolutla, tuiste van sowat 24 000 mense, lê besaai met bome, aanwysingsborde en dakteëls.

Esteban Dominguez se strandrestaurant is ook verwoes. “Dit is jare se harde werk wat daarmee heen is. My huis was daar, maar dit is verwoes. Ek het nie ʼn dak of enige meubels oor nie.”

Talle mense het ook kragonderbrekings beleef.

Grace het in sterkte afgeneem toe die oor die binneland beweeg het, maar kan volgende week moontlik in ʼn nuwe sikloon ontwikkel in die Stille Oseaan, aldus die Amerikaanse nasionale orkaansentrum.

Die Mexikaanse owerhede is steeds op hoë gereedheidsgrondslag weens riviere wat kan oorstroom en verdere modderstortings kan veroorsaak.

Pres. Andres Manuel Lopez Obrador het sy meegevoel betuig met die families van die oorledenes.

Owerhede in Veracruz het 200 stormskuilings opgerig en maan inwoners om in veilige plekke te skuil.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Samuel ·

Dit is hartseer. Wonder of dit ook met aardverwarming verband hou? Sou graag wou weet.

Elinette ·

Dit het beslis. Oeroue gletsers (“permafrost”) is besig om teen ‘n asembenemende spoed en a.g.v. verhoogde aardtemperature te smelt, wat lei tot verhoogde seevlakke. Daar is die vermoede dat sekere eilandgroepe selfs onder die seevlak kan verdwyn, as dit sou aanhou. Waarneembare verskille in die voorkoms van hoë reënval, versengende hitte, droogtetoestande, meer aardbewings, siklone en tifone ens. word gekoppel aan verhoogde seevlakke. Alles omdat die menslike CO2 spoor oor die afgelope paar dekades aansienlik toegeneem het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.