Minstens 9 dood ná modderstortings, vloede in Japan

Huise onder modder begrawe in Chiba, oos van Tokio. (Foto: Kyodo News via AP)

Minstens nege mense is dood nadat swaar reën die naweek modderstortings en vloede in dorpe oos van Tokio in Japan veroorsaak het. Verdere skade is ook aangemeld in gebiede wat vroeër vandeesmaand onder ’n tifoon deurgeloop het.

Die plaaslike owerhede het Saterdag gesê reddingswerkers is op soek na een persoon wat te midde van die vloede in Chiba vermis word. ’n Ander persoon word ook verder noord in Fukushima vermis.

Minstens agt mense is dood in Chiba en een sterfte is reeds in Fukushima aangemeld.

Hoewel die swaar reën in die land begin opklaar, is dele van Chiba steeds onder water. Sowat 4 700 huise is oorstroom en sommige treindienste is vertraag of opgeskort.

In die Midori-distrik van Chiba is drie mense en drie huise onder modder begrawe. Nog ’n modderstorting in die nabygeleë stad Ichihara het die lewe van ’n vrou geëis en in die dorpe Narata en Chonan het drie bestuurders verdrink toe hul voertuie deur water meegesleur is.

“Daar was ’n enorme geraas en toe ’n slag soos ’n aardbewing, so ek het na buite gegaan om te kyk wat gebeur het. Ek was vreesbevange,” sê die buurman van ’n huis wat in Midori verwoes is.

“Die reën was selfs erger as met die tifoon.”

Die eerste toernooi van Vrydag se tweede ronde van die PGA-toer in Japan, die Zozo-kampioenskap in die stad Inzai, het ook uitgereën.

Shinzo Abe, premier van Japan, sê die land se gemiddelde reënval vir ’n hele maand het Vrydag in ’n halwe dag geval.

Volgens die owerhede is die stortreën veroorsaak deur ’n laedrukstelsel bokant Japan se hoofeiland Honshu wat laat Vrydag noordwaarts beweeg het.

Elektrisiteit is vandag reeds herstel by die meeste van die 6 000 huishoudings in Chiba wat kragonderbrekings ervaar het.

Tifoon Hagibis het sowat twee weke gelede verwoesting in die land veroorsaak en meer as 80 lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.