Minstens 92 dood toe tenkwa in Sierra Leone ontplof

Minstens 92 mense is dood en talle voertuie is in die ontploffing en daaropvolgende brande verwoes. (Foto: Saidu Bah/AFP)

ʼn Reuseontploffing by ʼn vulstasie in Sierra Leone se hoofstad, Freetown, het die lewe van minstens 92 mense geëis, het die land se adjunkpresident Saterdag gesê.

Volgens Mohamed Juldeh Jalloh, wat vroeër vandag self die toneel saam met verskeie ander amptenare besoek het, word minstens 88 ander mense vir ernstige brandwonde in hospitale behandel.

ʼn Reddingswerker en ʼn verpleër het vroeër minstens 80 sterftes bevestig, met die verpleër wat sê hy het mans, vroue én kinders met “ernstige beserings” behandel.

Volgens ooggetuies het die ontploffing gebeur toe ʼn voertuig by ʼn vulstasie ná ʼn botsing met ‘n ander vragmotor aan die brand geraak het. Die vlamme het daarna vinnig versprei en mense in voertuie en op paaie in die omgewing gebrand.

Die meeste van die slagoffers is straatsmouse en motorfietsryers. Talle van hulle het in die vlamme beland terwyl hulle brandstof probeer kry het, het Jusu Jacka Yorma, ʼn vrywilliger op die toneel, gesê.

Honderde mense het Saterdag op die toneel saamgedrom op soek na vermiste geliefdes terwyl veiligheidsmagte ʼn wakende oog gehou het. Beeldmateriaal wys ʼn uitgebrande tenkwa en ʼn vragmotor, terwyl die gebied besaai is met uitgebrande wrakke waarvan sommige nog smeul.

Pres. Julius Maada Bio het op Twitter sy diepe medelye met slagoffers betuig en die groot lewensverlies betreur.

“My regering sal alles moontlik doen om die geraakte gesinne te help.”

Die omvang van die skade is nog nie bepaal nie.

Ongelukke met petroltenkwaens het al vantevore in Sierra Leone, een van die armste lande ter wêreld, plaasgevind.

In ander dele van die vasteland het soortgelyke voorvalle ook al verskeie lewens geëis wanneer mense probeer om die lekkende brandstof bymekaar te maak.

In 2009 is meer as 100 mense dood toe ʼn tenkwa noordoos van die Keniaanse hoofstad Nairobi omgeslaan het en ʼn ontploffing diegene verbrand het wat van die brandstof in die hande probeer kry het.

In Tanzanië is minstens 100 mense ook dood toe ʼn tenkwa ontplof het, terwyl meer as 200 mense in 2015 in ʼn soortgelyke voorval in Suid-Soedan dood is.

In een van die jongste voorvalle is 13 mense dood en verskeie ander ernstig beseer toe ʼn vuurbal ʼn skare mense in Kenia oorval het. Die mense was besig om brandstof te tap uit ʼn tenkwa wat kort tevore omgeslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Ironies dat die plek se naam Freetown is. Ekskom behoort goed sake te doen daar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.