Minstens 96 dood ná trein ontspoor

Reddingswerkers op soek na oorlewendes in die wrak van 'n trein wat op 20 November 2016 naby Pukhrayan in die Kanpur-distrik ontspoor het Foto: AFP

Reddingswerkers op soek na oorlewendes in die wrak van ‘n trein wat op 20 November 2016 naby Pukhrayan in die Kanpur-distrik ontspoor het Foto: AFP

Minstens 96 persone is Sondag dood toe 14 waens van ʼn oornagpassasierstrein in die noorde van Indië ontspoor het.

Daljeet Chaudhary, direkteur-generaal van die polisie, het gesê die dodetal sal waarskynlik styg, aangesien reddingswerkers nog nie toegang bekom het tot een van die waens wat die ergste beskadig is nie. Hy het bevestig reddingswerkers is steeds besig om oorlewendes uit die wrak te sny.

Die trein het omstreeks 03:10 naby Pukhrayan, naby die nywerheidsgebied Kanpur, ontspoor. Meer as 200 passasiers is beseer, waarvan 72 ernstige beserings opgedoen het, toe van die waens die ander waens getref het. Die persone wat ernstige beserings opgedoen het, is na hospitale in Kanpur geneem, het Chaudhary bygevoeg.

Hyskrane is ook ontplooi om die waens op te tel, maar reddingswerkers moet baie versigtig te werk gaan, aangesien van die waens op ʼn skuinste lê en indien dit sou omval, sou die persone wat in die wrak vasgekeer is, nog verdere beserings opdoen.

Die polisie sukkel om honderde nuuskierige persone van die ongelukstoneel weg te hou. “Ons het die gebied afgesper om persone te verhoed om die reddingspoging te verhinder.”

Passasier Satish Kumar, wat in ʼn treinwa gery het wat op die spoor bly staan het, het gesê die trein het teen ʼn normale spoed beweeg toe dit skielik stilgehou het. “Dit het weer begin beweeg, en toe het ons ʼn harde slag gehoor. Toe ons by die trein uitkyk, het ons gesien ʼn paar van die waens het ontspoor.”

Eerste minister Narendra Modi het sy kommer oor die ongeluk uitgespreek. “Ek is sprakeloos oor die verlies van lewe op die Patna-Indore Express. Ek dink aan die families,” het hy op sy Twitter-rekening geskryf.

Kanpur is ʼn groot spoorwegverbinding en honderde treine ry daagliks deur die stad. Verskeie treine maak van die spoorlyn gebruik en word nou na ander roetes herlei, het Anil Saxena, woordvoerder vir Indian Railways, in New Delhi gesê.

Dit is nog nie dadelik duidelik waarom die trein ontspoor het nie. Spoorwegowerhede stel ondersoek in.

Meeste treinongelukke in Indië word toegeskryf aan swak instandhoudingswerk en menslike foute. Treine is die gewildste vervoermiddel vir miljoene Indiers, met ongeveer 23 miljoen wat daagliks van die spoorvervoernetwerk gebruik maak.

Indië se ergste treinongeluk het in 1981 naby Saharsa Bihar plaasgevind toe ʼn passasierstrein in die Baghmati-rivier beland het. Nagenoeg 800 persone is dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Simon ·

Meeste treinongelukke …word toegeskryf aan swak instandhoudingswerk en menslike foute (onbekwaamheid, “kannie warrie” nie houding? )
Ek is bevrees dit is RSA se voorland ook. Treine en spoorstelsel is mos die “witman se uitvindings, hoekom sal ek dan warrie daaroor.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.