Minstens ses sterf ná aanval by Sydney-winkelsentrum

Gesinne verlaat die Westfield Bondi Junction-winkelsentrum ná ʼn mesaanval (13 April 2024) (Foto: David Gray/AFP)

Minstens ses persone is dood ná ʼn mesaanval by ʼn winkelsentrum in Sydney, Australië. Verskeie persone, insluitend ʼn klein kind, is beseer tydens die aanval Saterdagmiddag.

Die aanvaller is op die toneel doodgeskiet deur ʼn senior polisiebeampte.

Eerste minister Anthony Albanese het sy skok uitgespreek oor die aanval. “Vir almal van ons vanaand is die toneel by Bondi Junction iets wat ons nie kan begryp of in woorde kan uitdruk nie.”

Volgens Albanese het die aanvaller alleen opgetree.

Die motief is nog nie duidelik nie, maar Anthony Cooke, adjunkkommissaris van die Nieu-Suid-Wallis-polisie, het gesê terrorisme kan nie in hierdie stadium uitgesluit word nie.

“Ek weet nog nie wie hy is nie. Die ondersoek is nog baie nuut en ons poog om die aanvaller te identifiseer.”

ʼn Woordvoerder van New South Wales Ambulance het aan AFP gesê agt pasiënte is na verskeie hospitale geneem. Die jong kind is na die kinderhospitaal geneem. “Hulle het almal traumatiese beserings opgedoen.”

Beeldmateriaal deur plaaslike media wys hoe ʼn man, wat ʼn Australiese rugbyligatrui gedra het, met ʼn groot mes deur die winkelsentrum hardloop. Beseerde mense het op die grond gelê.

Ooggetuies het die toneel as “paniekerig” beskryf.

Pranjul Bokaria het pas klaar gewerk en het inkopies gedoen toe die aanval plaasgevind het. Sy het na ʼn nabygeleë winkel gehardloop en daar weggekruip. “Dit was angswekkend. Sommige mense was baie emosioneel en hulle het gehuil,” het sy aan AFP gesê. Sy het uiteindelik deur ʼn nooduitgang saam met ander inkopiegangers en personeel van die toneel gevlug.

“Ek lewe en is dankbaar,” het sy bygevoeg.

Reece Colmenares was op pad na die gimnasium toe sy gesien het hoe mense verby haar “hardloop en skree”.

Sy het aan AFP gesê die mense het gesê iemand is met ʼn mes gesteek, so sy en 10 of 12 ander mense het in ʼn hardewarewinkel gaan wegkruip.

“Hulle het ons na ʼn vertrek geneem en die winkel gesluit. Dit was angswekkend. Daar was klein kindertjies en bejaarde persone en mense in rolstoele oral.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.