Minstens sewe dood toe krans op bote intuimel

‘n Foto van die Minas Gerais-brandweer wys reddingswerkers op die toneel waar die krans op die bote meegegee het. (Foto: Minas Gerais-brandweer/AFP)

WAARSKUWING: Die berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Minstens sewe mense is dood en drie word nog vermis nadat ʼn krans op toeristebote op ʼn meer in Brasilië neergestort het.

Reddingspanne, ook ʼn duikeenheid en lede van die Brasiliese vloot, het hulle na die Furnasmeer in die staat Minas Gerais gehaas, waar paniekbevange toeriste hulpeloos toegekyk het hoe ʼn groot stuk rots teen ʼn krans meegegee en bo op drie bote neergestort het.

Die jongste amptelike syfer is “sewe dood en drie vermis”, het Pedro Aihara, woordvoerder van die Minas Gerais-brandweer, Saterdagaand gesê.

Nog 32 mense is beseer en minstens nege van hulle moes in hospitale opgeneem word.

Brandbestryders het aanvanklik gesê 20 mense word vermis, maar die getal het intussen beduidend gedaal nadat talle van die slagoffers wat self na hospitale gegaan het, opgespoor is.

Toeriste stroom na die rotsmure, spelonke en watervalle wat die groen water van die Furnasmeer – gevorm deur die gelyknamige hidro-elektriese dam – omring.

Dramatiese video’s, geneem minute voordat die krans neergestort het, en wat op sosialemedianetwerke geplaas is, wys hoe verskeie mense uitwys dat “talle klippe val”, asook hoe hulle skreeu vir die passasiers op ander bote om van die rotsmuur weg te kom.

Pres. Jair Bolsonaro het sommige van die video’s op sy Twitter-rekening gedeel en gesê kort nadat die voorval aangemeld is, is die vloot na die toneel gestuur om slagoffers te red en beseerdes vir behandeling te neem.

Die duikers se soektog is oornag weens veiligheidsredes opgeskort en vroegoggend hervat, maar ander reddingswerkers het op die toneel gebly.

Swaar reën het die afgelope paar dae oor die suidooste van Brasilië uitgesak, wat die instorting volgens brandweerlede meer waarskynlik gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pietertjie ·

Ek hoop dat al die rommel wat so op die water dryf deur die ongeluk veroorsaak is.

Onnie ·

Ag nee, dis vreeslik om te sien! Veral omdat daar vele waarskuwings van die natuur en die omstanders was. Tragies dat die 3 bote nie onmiddelik weggejaag het toe die 1ste klippe begin val nie?? Baie lewens kon gespaar gewees het. Ek wonder of dit nuuskierigheid of domheid is wat gemaak het dat hulle nie dadelik padgegee het nie. Sad, sad, sad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.