Missielwaarskuwing toe werknemer ‘verkeerde knoppie druk’

Foto: Hawaii se noodbestuursagentskap

ʼn Vals alarm wat in Hawaii inwoners gewaarsku het dat ʼn missiel op pad na dié Amerikaanse staat is, was glo ʼn menslike fout, het staatsbeamptes gesê.

Die fout het tydens ʼn skofruiling plaasgevind toe ʼn werknemer by Hawaii se noodbestuursagentskap “die verkeerde knoppie gedruk het”.

“Dit moes nie gebeur het nie. Ons ondersoek die verloop van gebeure wat plaasgevind het,” het goewerneur David Ige gesê.

Vern Miyagi, administrateur van die agentskap, het by Ige aangesluit en het aanspreeklikheid aanvaar vir die fout. Hy het gesê stappe sal gedoen word om “te verhoed dat so iets ooit weer gebeur”.

Die vals alarm het Saterdag tot ongeveer ʼn halfuur se paniekerigheid gelei.

Een van die vrae is waarom dit 38 minute lank geduur het voor beamptes dit as ʼn vals alarm verklaar het.

ʼn Kennisgewing is na inwoners se selfone gestuur en angstige persone het na skuilings gehardloop.

Ige het gesê ʼn enkele persoon sal in die toekoms nie alleen só fout kan begaan nie.

Die kennisgewing is net na 08:00 (1800 GMT) uitgestuur en het inwoners 15 minute kans gebied om skuiling te soek.

Tulsi Gabbard, Amerikaanse verteenwoordiger, het op CNN gesê dit is ʼn “voorsmakie van die werklikheid” en ʼn rede waarom die Amerikaanse president Donald Trump en ander leiers moet poog om vreedsaam die dreigement deur Noord-Korea se kern- en ballistiesemissielprogram te beëindig. Gabbard het gesê elke selfoon op Hawaii het die boodskap ontvang. “Mense het gedink hulle het net 15 minute voor hulle en hul gesinne sal doodgaan. Hulle is aangesê om skuiling te soek, maar daar is nie enige kernskuilings nie,” het sy bygevoeg.

Matt LoPresti, ʼn staatsverteenwoordiger, het gesê hy en sy kinders het in ʼn bad geskuil en begin bid. “Ons het dit so ernstig soos ʼn hartaanval opgeneem,” het LoPresti op CNN gesê. Volgens hom is die “heeltemal onaanvaarbaar” dat dit 38 minute lank geneem het voor die boodskap, dat dit ʼn vals alarm is, uitgestuur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wat gemaak ·

Watse noodmaatreël is in plek vir ons hier in suid afrika as hier ‘n wêreld situasie gebeur

Justice ·

Dit lyk darem asof die werker betyds vir sy skof was na `n moontlike deurnag partytjie.

smurfie ·

moontlike deurnag partytjie?
praat jy uit ondervinding Justice?

PJC ·

Gelukkig wil niemand in die wêreld met ons baklei nie en is ver verwyder van al hierdie dinge. Die enigste kernbedreiging die swak bestuur van Koeberg se kernkragstasie vir elektrisiteitsopwekking. Hierdie wys ook weereens hoe gevaarlik Noord Korea met sy kernkragvermoëns vir die res van die wêreld is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.