Misterie om verdwene Maleisiese passasierstraler verdiep

'n Foto van die vermiste vliegtuig

‘n Foto van die vermiste vliegtuig

Met die nuus dat die FBI die Maleisiese owerhede nou bystaan om die moontlikheid van terreur in die verdwyning van ‘n Maleisiese straler naby Viëtnam te ondersoek, het bespiegelings reeds ontstaan wie agter so ‘n ramp sou sit.

Volgens die jongste inligting het die radarbeelde getoon dat die vliegtuig teruggedraai het voor dit van die radarskerm af verdwyn het. Grondbeheer is egter nie van enige ongewone verwikkelinge laat weet wat tot die terugdraai van die vliegtuig gelei het nie. Dit is ook bekend dat twee van die passasiers met gesteelde Europese paspoorte gereis het, en dat nog twee ondersoek word wat ook hul kaartjies deur China Southern Airlines gekoop het. Die moontlikheid dat die vier onderling met mekaar kon kontak gehad het, word ondersoek.

Hoewel terroriste reeds passasiersvliegtuie neergeskiet het, soos in die voormalige Rhodesië, dui die huidige besonderhede daarop dat die vliegtuig se lot aan boord bepaal is. Voorts het die Maleisiese lugdiens ‘n trotse veiligheidsrekord, en so ook die Boeing 777, wat as een van die veiligste vliegtuie beskou word.

Indien die vliegtuig se lot wel deur sabotasie beklink is, is dit soos ‘n soeke na ‘n naald on ‘n hooimied om te bepaal wie daaragter sit indien geen groep daarvoor verantwoordelikheid aanvaar nie. Talle vliegtuie is al deur geestelik onstabiele individue gekaap.

Tot meer konkrete leidrade gevind is, sal die vliegtuig deur ‘n proses van eliminasie gevind moet word. Elkeen van die moontlikheid bied egter ook probleme.

Hoog op die lys sal die Oegjare staan, ‘n Moslem-etniese minderheid in China wat op selfbeskikking aandring. Die groep is deurlopend by bomontloffings in China betrokke, en het ook reeds simboliese aanvalle – in wese selfmoordsendings – op die Tianingplein in Beijing geloods. Hulle was juis pas weer in die nuus toe ‘n groep met messe ‘n treinstasie bestorm het, en verskeie mense die lewe gelaat het. Die Oegjaar-kongres het die aanval egter veroordeel.

Verskeie ander minderheidsgroepe, soos die inheemse bevolking van Binne-Mongolië, voel nie net hulle word onderdruk nie, maar deur etniese Chinese verdring.

Die moontlikheid dat Tibettane daaragter skuil word as baie gering beskou.
Die Tibettane se weergawe van Boeddhisme is baie passief. Die ergste geweld is dat meer as 50 monnike uit protes teen die Chinese besetting hulself die afgelope aantal jare aan die brand gesteek het, en so dood is. Hulle het nie iemand anders saam met hulle probeer om die lewe bring nie.

Uit ‘n propaganda-oogpunt is dit onwaarskynlik dat ‘n terreurgroep wat sy mes vir China in het, juis ‘n Maleisiese passasiersvliegtuig sou aanval, al was die vliegtuig na Beijing onderweg, en al was die meeste passasiers Chinese.

Die moontlikheid dat ‘n Maleisiese minderheidsgroep agter ‘n aanval kan sit, kan ook nie heeltemal uitgesluit word nie. Maleisië het verskeie etniese minderhede, maar in die jongste verlede was die meeste probleme in die verre ooste van die land, op die eiland Borneo, waar die inwoners van eilande vir verskeie lande in die omgewing probleme oplewer. Brittanje het juis verlede jaar sy burgers gemaan teen onnodige reise na die omgewing na ‘n Taiwanese paartjie aangeval is.

Dit is ook moontlik dat die aanval met die wêreld se grootste huidige brandpunt, die Oekraïne, verband hou. Op die Krim-skiereiland wat op die oomblik sentraal staan, is ‘n etniese minderheid, bekend as die Krim-Tatare.

Hulle is Moslems, en hierdie bevolkingsgroep wil nie deel van Rusland wees nie.

Rusland self is gereeld die teiken van militante Moslems, veral uit Tsjetsnië en Dagestan. Tot dusver was daar nog nie bekende gevalle van samespanning tussen die Krim-Tatare en die onvrede in die Kaukasiese gebied nie. Die grootste probleem met hierdie opsie is dat dit kwalik sin maak om ‘n Maleisiese vliegtuig – boonop ‘n burgerlike passasiersvliegtuig – aan te val wat na China onderweg is. Maleisië is oorwegend Islam.

Hoewel die Maleisiese vliegramp – indien dit bevestig sou word – die grootste lugramp in Maleisië se geskiedenis sal wees, is dit nie naastenby die grootste vliegramp ooit nie.

Die grootste vliegtuigramp was toe twee Boeing 747’s in op die lughawe van Tenerife op die Kanariese Eilande op die aanloopbaan teen mekaar gebots het, en 583 mense die lewe gelaat het.

Suid-Afrika het ook al ‘n paar vliegrampe opgelewer.

Met die bekende Helderberg-ramp was daar 140 passasiers aan boord van die vliegtuig, wat deels ‘n vragvliegtuig was.

In 1968 het ‘n Boeing 707 van die Suid-Afrikaanse lugdiens naby Windhoek met 116 passasiers en 12 bemanningslede aan boord neergestort. Net vyf insittendes het die ongeluk oorleef.

Die vorige jaar het ‘n Viscount in die see buite Oos-Londen geval en al 25 mense aan boord is dood.

Lees ook:
Vermiste Boeing dalk gekaap
Vermiste vliegtuig het in see gestort; 239 vermis, bevestig Viëtnam
Boeing met 239 passasiers vermis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert Strydom ·

Iemand anders het dit ook reeds gesê, maar daardie foto is ‘n Boeing 777 nie. Gaan kyk gerus op Boeing se webblad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.