MIV-positiewe man ‘funksioneel’ van virus genees

(Argieffoto: Pixabay.com)

Kenners hoop ʼn deurbraak is gemaak in die strewe na ʼn kuur vir MIV nadat daar onlangs bevestig is dat ʼn Britse man wat MIV-positief was “funksioneel van dié verwoestende virus genees” is.

Unaids, die Verenigde Nasies se gesamentlike program oor MIV/vigs, sê in ʼn verklaring die man is in 2016 deur spesialiste by University College London en Imperial College London in Londen vir gevorderde Hodgkins-limfoom behandel. Die pasiënt het ʼn stamseloorplanting ontvang van ʼn skenker wat ʼn seldsame genetiese mutasie gehad het. Dié mutasie lei daartoe dat die draer MIV-weerstandig is.

Navorsers het bevestig, ná die stamseloorplanting en nadat die man reeds 18 maande lank nie meer antiretrovirale medisyne gebruik nie, kan die MI-virus selfs deur die mees sensitiewe toetse nie in sy liggaam opgespoor word nie.

Vigs-kenners meen dié geval dien as bewys van ʼn konsep wat wetenskaplikes kan help om ʼn kuur vir vigs te vind, maar dis nie op sigself ʼn kuur nie. Kenners sê die Britse pasiënt is “funksioneel genees” en “in remissie”, maar is versigtig om die pasiënt as heeltemal genees te bestempel.

Michel Sidibé, uitvoerende direkteur van Unaids, meen egter dié geval is wel ʼn deurbraak. “Hoewel die deurbraak ingewikkeld is en baie werk nog gedoen moet word, gee dit ons hoop vir die toekoms dat ons moontlik deur middel van wetenskap ʼn einde kan bring aan vigs, deur ʼn inenting of kuur,” sê hy.

“Dit wys egter ook hoe ver ons nog van daardie punt af is en hoe uiters belangrik dit is om voort te gaan met ons pogings wat MIV-voorkoming en behandeling betref.”

Hy het daarop gewys dat stamseloorplantings uiters kompleks, intensief en duur is en ook saam met aansienlike newe-effekte kom. Dit is daarom nie ʼn werkbare manier om groot getalle mense wat MIV-positief is te behandel nie. “Die resultate van hierdie geval gee navorsers egter baie goeie insig in strategieë vir ʼn MIV-kuur en beklemtoon net weereens hoe belangrik wetenskaplike navorsing en innovering in hierdie verband is.”

Die geval is net een van twee waar MIV-lyers funksioneel genees is. Die eerste was ʼn Berlynse pasiënt, Timothy Ray Brown, wat soortgelyke behandeling vir kanker in 2007 ontvang het.

Volgens Unaids was daar in 2017 sowat 36,9 miljoen mense wat met MIV leef en 1,8 miljoen mense het in dié jaar die virus opgedoen. In dieselfde jaar het net 21,7 miljoen toegang tot MIV-behandeling gehad en is een miljoen mense aan MIV-verwante siektes dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theo ·

Daar is lank reeds genesing vir MIV / Vigs. Die wereld en die Groot ‘Pharma’ wil dit egter nie erken nie want dit is natuurlike procedure en nie chemies nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.