Mnangagwa gesmeek om weer invoere toe te laat

Emmerson Mngangagwa, president van Zimbabwe.

Zanu PF, die regerende party in Zimbabwe, het Dinsdag ʼn beroep op pres. Emmerson Mnangagwa gedoen om Zimbabwiërs toe te laat om basiese kommoditeite wat twee jaar gelede verban is weer in te voer.

Dít terwyl basiese goedere toenemend van winkelrakke verdwyn.

Die regering het die invoer van verskeie basiese goedere verban as ʼn manier om die Wet op Invoere te beheer.

Zanu PF wat die land se nasionale verkiesing amptelik op 30 Julie gewen het ná opposisieleier Nelson Chamisa die uitslag van die verkiesings in die hof betwis het, het die prysverhogings en kommoditeitstekorte aan ʼn “geheime hand van ekonomiese saboteurs” toegeskryf wat glo vasbeslote is om Mnangagwa se plan om teen 2030 ʼn sterk middelklas in Zimbabwe gevestig te hê, te ontspoor.

Die ineenstorting word glo gedryf deur “bose magte” wat agter die verkoop van buitelandse valuta op straatvlak in die informele sektor en die verskaf van goedere aan die swartmark vir verkoop teen belaglike pryse sit.

Zanu PF het gesê dit is ontsteld dat tekorte aan basiese kommoditeite en prysverhogings voorkom in ʼn tyd wanneer die regering maatreëls aangekondig het wat gemik is op die herstel van ekonomiese stabiliteit.

“Ons glo dat die ontluikende ekonomiese onstuimigheid wat ons ekonomie karakteriseer die gevolg is van reaksionêre magte, verkeerde persepsies, afwesigheid en die gebrek aan ekonomiese dissipline deur sommige entiteite en individue in ons midde,” het Zanu PF gesê.

Die party het gevolglik ʼn stel maatreëls in plek gestel om Zimbabwe se huidige politieke krisis die hoof te bied.

Die party het ook die regering opdrag gegee om alle vorme van informele geldmarkte te elimineer en ʼn beroep op besighede gedoen om aan die beginsels van goeie samewerkende regering te voldoen.

Kembo Mohadi, adjunkpresident, het Dinsdagaand ʼn konferensie toegespreek en gesê die regering maak werk van die situasie. Hy het verder gesê die regering het ministers opdrag gegee om aandag te skenk aan die uitdagings en terug te rapporteer aan die uitvoerende gesag.

Hy het bygevoeg dat die regering se posisie oor Zimbabwiese staatseffek-geldnote en die Amerikaanse dollar onveranderd bly.

ʼn Nuwe betaalmiddel – oftewel “bond notes” – wat in 2016 deur die Reserwebank van Zimbabwe (RBZ) bekendgestel is, het volgens die RBZ dieselfde waarde as die Amerikaanse dollar. Algemene handelaars het egter nou begin om nie meer dié geldeenheid te aanvaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.