Mnangagwa kondig nuwe Zim-kabinet aan

Pres. Emmerson Mnangagwa. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Die Zimbabwiese president Emmerson Mnangagwa het Vrydag sy nuwe kabinet aangekondig.

Hy het die kabinet van 23 na 20 verklein en sommige portefeuljes saamgesmelt. Sy nuwe kabinet sluit militêre lede in wat ook in sy vorige kabinet gedien het en ʼn paar tegnokrate. Hy het ook ʼn paar Zanu-PF-lede aangestel wat teen die vorige president, Robert Mugabe, gerebelleer het.

Die tegnokrate is prof. Mthuli Ncube (finansies en ekonomiese ontwikkeling), voormalige Olimpiese kampioen Kirsty Coventry (jeug, sport, kuns en ontspanning), Obadiah Moyo (gesondheid- en kindersorg) en Winston Chitando (myne en mynontwikkeling).

Ander nuwe aanstellings is Sekai Nzenza (staatsdiens, arbeid en maatskaplike ontwikkeling) en Mangaliso Ndlovu (nywerheid en handel).

Nasionale voorsitter van Zanu-PF, Oppah Muchinguri, is aangestel as minister van verdediging en oorlogsveterane. Hy was vroeër betrokke by die departement van omgewing, klimaat en water.

July Moyo (plaaslike regering en openbare werke), Sibusiso Moyo (buitelandse sake en internasionale handel), Amon Murwira (hoër opvoeding, wetenskap en tegnologie), Paul Mavhima (primêre en sekondêre opvoeding) en Perrance Shiri (grond, landbou, water) bly almal in hul vorige portefeuljes. Prisca Mupfumira (omgewingsake en toerisme) en Ziyambi Ziyambi (justisie) bly ook in hul vorige portefeuljes.

Joel Biggi Matiza (vervoer en infrastruktuur), Monica Mutsvangwa (inligting en uitsaaidiens) en Kazembe Kazembe (inligtingskommunikasietegnologie en koerierdienste) het van portefeulje verander.

Van die 20 ministers wat aangestel is, is slegs Sithembiso Nyoni (vrouesake, gemeenskap en klein ondernemings), Joram Gumbo (energie), Cain Mathema (binnelandse sake en kulturele erfenis) en Muchinguri oor van Mugabe se kabinet.

Mnangagwa het tydens sy inhuldiging Zimbabwiërs verseker dat sy regering ʼn “gunstige omgewing vir beleggers sal skep” in lyn met sy “Zimbabwe is oop vir besigheid”-mantra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

sowaar n wit minister ook. nou nie n wonderlike portefeulje nie, maar steeds ‘n wonderwerk vir ‘n land waarin wit mense absoluut gehaat word.

Anoniem ·

Mnr. Die President vra net asb dat alle kragkoorde op slot en grendel is as Julle saamkuier want Auntie Grace kan hulle goed gebruik ! En wees tog net versigtig want ons hoop daar sal nou VREDE wees anderkant die Limpopo en ‘n groeikoers en werkskepping !

Daan ·

Het iemand dit opgemerk. Die kabinet is VERKLEIN. As Zimbabwe dit kan doen, dan kan dit sowaar nie so moeilik wees nie.

Mag ·

20 kabinetslede vir ‘n landjie so groot soos ‘n posseel, belaglik nes hier in SA. Alles geld mors , maar nou ja: WHO CARES.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.