Mnangagwa versoek nasionale gesprek; sal geweld ondersoek

Pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe. Foto: Mike Hutchings/Pool Photo via AP, File

Emmerson Mnangagwa, president van Zimbabwe, het Dinsdag onderneem om die gedrag van sekuriteitsmagte te ondersoek wat inwoners verlede week geteister het tydens betogings oor ʼn styging in die petrolprys.

Mnangagwa het op sy amptelike Twitter-kanaal gesê die geweld deur die sekuriteitsmagte is “onaanvaarbaar en verraai die nuwe Zimbabwe”. “Wangedrag sal ondersoek word. As dit nodig is, sal die koppe rol,” het hy geskryf.

Zimbabwe se sekuriteitsagentskappe het, hoofsaaklik in Harare en Bulawayo, teen vermeende betogers, politici en burgerlike organisasies begin optree om verdere betogings te verhoed.

Volgens die burgerlike organisasie Human Rights NGO Forum is minstens 12 persone dood.

Mnangagwa het ook ʼn gesprek met kerke, die burgerlike samelewing en die opposisie versoek. “Ek nooi die leiers van alle politieke partye en godsdienstige en burgerlike leiers om ons verskille tersyde te stel en saam te kom. Dit was ons verenig is sterker as dit wat ons ooit kan verdeel. Kom ons begin ʼn nasionale gesprek,” het hy gesê.

Hy het terselfdertyd die geweld deur die betogers veroordeel en gesê hoe hulle optree, is nie hoe Zimbabwiërs optree nie. “Almal het die reg om te betoog, maar hierdie was nie ʼn vreedsame betoging nie: sinnelose geweld en vandalisme, die plunder van polisiestasies waar vuurwapens en uniforms gesteel is, aanhitsing en dreigemente van geweld.”

Leier van die opposisie, MDC-leier Nelson Chamisa, het gesê om Zimbabwe se krisis op te los, verg eerlikheid, opregtheid en deernis, en nie net “mooi woorde wat nie deur dade ondersteun word nie”. Hy het bygevoeg die opposisie het lankal aangedui hulle is bereid om in gesprek te tree om die land se uitdagings te takel. “Ongelukkig is die hand verwerp wat ons uitgereik het,” het hy ook op Twitter geskryf. “Dis jammer dat sommiges nou eers tot dié besef kom, ná lewensverlies. Dit hoef nie so te werk nie, maar dit is die prys van arrogansie.”

Chamisa doen ʼn beroep op Mnangagwa om “om verskoning te vra vir die foute wat gemaak is”. “Dit is nie nou die tyd vir ʼn katalogus van verskonings, verduidelikings of regverdigings nie. Ons moet respek betoon aan Zimbabwiërs.”

Hy versoek ook dat daar ʼn einde gebring word aan die staat wat burgers teister. “Ons versoek dat alle politieke gevangenes vrygelaat moet word wie se regte steeds geskend word.”

Die Zimbabwiese Menseregtekommissie het Dinsdag gesê die weermag en polisie het onbehoorlike en ongeregverdigde mag teen burgers gebruik. Dit kom neer op polisiegeweld, het die kommissie gesê.

Volgens die kommissie het agt persone, insluitend ʼn polisiebeampte, gesterf en verskeie ander is onderwerp aan verskillende grade van onmenslike behandeling. “Klaers het gesê gewapende soldate het in die aand by hul huise opgedaag. Dit het tot lukrake aanrandings gelei. Wetstoepassers het in die aand gekom en geweier om hulself te identifiseer. Die feit dat die beskuldigde persone in polisieaanhouding beland het, beteken dit was polisiebeamptes wat onwettig opgetree het,” het die kommissie bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Hoekom praat hy nie ook met sy “tradisionele leiers” nie? Waar is hulle?

jakes ·

Die situasie in Zim sal nooit opgelos word nie, die land is vernietig toe Mugabe dekades gelede bewind oorgeneem het. Zim het van n vooruitstrewende land tot n ashoop gedaal en SA is oppad daarheen.

Anoniem ·

Begin by Jouself ‘Mr Crocodile’ JULLE het geen respek vir LEWE nie

MANIE ·

Hierdie krimineel behoort nie eens aangespreek te word as n president. Hy hanteer sy landgenote soos nikswerd honde. HYis erger as sy kriminele voorganger

Anoniem ·

MANIE : Ja dis maar net vir die goeie orde ! Ek weet presies wat Jy bedoel !

Anoniem ·

Gelukkig sal “h y” aan GOD alleen moet verantwoording doen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.