Modderstorting: Dodetal styg skerp

Reddingswerkers kom bymekaar op die kruin van die modderstorting wat deur Regent, buite Freetown in Sierra Leone gespoel het (15 Augustus 2017). Foto: AP Photo/ Manika Kamara

Minstens 350 mense, insluitende 100 kinders, het gesterf nadat swaar reën en vloede ʼn massiewe modderstorting in Freetown, die hoofstad van Sierra Leone, veroorsaak het.

Die Sierra Leone Telegraph het berig meer as 350 ongeïdentifiseerde liggame is na die lykshuis van die stad se grootste hospitaal, Connaught-hospitaal, geneem. Daar word gevrees dat die dodetal nog verder kan styg aangesien minstens 600 mense nog vermis word.

Die Connaught-hospitaal is heeltemal oorweldig deur die aantal oorledenes en van die liggame moes op die vloer gepak word.

Maroela Media het vroeër berig Abu Bakar Tarrawellie, ʼn plaaslike woordvoerder vir Red Cross, het aanvanklik gesê die dodetal staan op 205 mense, maar hy het gewaarsku dat dit waarskynlik sal styg. In Freetown is vrywilligers steeds besig om oorledenes se geskende liggame onder die puin uit te haal.

Die liggaam van een van die slagoffers word deur reddingswerkers gedra in Regent, buite Freetown, in Sierra Leone (14 Augustus 2017). Foto: AP Photo/ Manika Kamara

Die Sierra Leone National Broadcasting Corp. het gewys hoe mense die liggame van familielede onder die puin verwyder, terwyl ander van die oorledenes in ryssakke na die lykshuis dra.

Amptelike reddingspogings is ook tans aan die gang, maar word bemoeilik deur die oorstroomde paaie in die gebied. Militêre personeel is ontplooi om met die reddingspogings te help.

Meer as 1 000 huise is onder modder en puin begrawe ná die modderstorting. ʼn Bron in die plaaslike departement van gesondheid het gesê tot soveel as 500 mense kon in die tragedie gesterf het, terwyl adjunkpresident Victor Foh aan joernaliste gesê het dit is waarskynlik dat honderde liggame onder die puin vasgekeer is.

Volgens Red Cross is tot soveel as 3 000 mense sonder heenkome gelaat en hierdie syfer sal na verwagting ook styg. Kommunikasie-infrastruktuur en elektrisiteitstoevoer in die gebied is ook geaffekteer.

Die president se kantoor het ʼn verklaring uitgereik waarin mense aangemoedig word om na die veiliger dele van Freetown te beweeg en by registrasiesentrums aan te meld. Die verklaring het nie die amptelike dodetal gemeld nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.