‘Mona Lisa’ kry dalk eie kamer in Louvre

Besoekers bewonder Leonardo da Vinci se Mona Lisa. (Foto: Thibault Camus, AP)

Leonardo da Vinci se Mona Lisa, die wêreld se bekendste skildery, sal dalk haar eie vertrek in die Louvre kry.

Só ʼn skuif kan besoekers, van wie baie die Louvre besoek net om die Mona Lisa te besigtig, ʼn beter ervaring gee, het Laurence des Cars, hoof van die museum, Saterdag gesê.

“Dis altyd frustrerend wanneer jy nie aan besoekers die bes moontlike ontvangs kan gee nie, en dit is die geval met die Mona Lisa. Ek dink ons moet ʼn beter oplossing hiervoor vind.”

Sy sê die Louvre het kontak gemaak met die ministerie vir kultuur om moontlike oplossings te vind.

Die Louvre, een van die wêreld se gewildste museums, het in 2023 amper nege miljoen besoekers verwelkom. Des Cars sê 80% van hierdie besoekers – ongeveer 20 000 per dag – durf die skares aan om die Mona Lisa se raaiselagtige glimlag te aanskou. Hulle neem ook gedurig selfies voor die skildery.

Die skildery word tans in die Louvre se Staatskamer (Salle des Etats) in ʼn beskermende glaskas vertoon.

Aktiviste gooi pampoensop na die Mona Lisa. (Foto: X)

Dít is die grootste vertrek in die museum en die Mona Lisa deel dit met Venesiese meesters uit die 16de eeu. Oorkant die Mona Lisa hang die museum se grootste kunswerk, Die bruilof in Kana, deur Paolo Veronese.

Die Mona Lisa het die afgelope jare meer as een keer onder vandale en aktiviste deurgeloop. In Mei 2022 het ʼn man, geklee soos ʼn bejaarde vrou, uit ʼn rolstoel gespring en probeer om die koeëlvaste glasbedekking voor die skildery stukkend te slaan, voor hy die glas met koek besmeer het. In Januarie vanjaar het twee betogers pampoensop na die glasskerm gegooi en die reg op “gesonde en volhoubare kos” geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.