Monet-skildery en koning Charles III-wasbeeld ook met kos besmeer

Skermskoot uit die video (@AufstandLastGen/Twitter)

Omgewingsaktiviste het Sondag kapokaartappels op ʼn Claude Monet-skildery in ʼn Duitse museum uitgegooi. Dit volg net ʼn paar dae ná tamatiesop uitgegooi is oor Vincent van Gogh se “Sonneblomme”-skildery in die Nasionale Galery  in Londen.

ʼn Wasbeeld van Brittanje se koning Charles III is Maandag by Londen se Madame Tussauds-museum ook met sjokoladekoek besmeer.

Die betogers, ʼn groep genaamd Last Generation, het ʼn video van die Monet-voorval op Twitter gedeel. “As dit ʼn skildery met #MashedPotatoes of #TomatoSoup daaroor verg om die samelewing daaraan te herinner dat fossielbrandstof ons almal doodmaak, dan gee ons vir julle #MashedPotatoes op ʼn skildery!” het die groep gesê.

Die werk, “Les Meules”, hang in die Barberini-museum in Potsdam en is deel van miljardêr Hasso Plattner se versameling. Dit is ʼn permanente lening aan die museum.

Die skildery het in 2019 op ʼn veiling $111 miljoen gehaal – die hoogste bedrag ooit vir ʼn Monet.

Die twee aktiviste, geklee in swart met oranje glimbaadjies, het die kapokaartappels oor die skildery uitgegooi.

Albei is in hegtenis geneem en staan tereg op aanklag van saakbeskadiging en betreding, het die polisie gesê.

Die skildery is deur glas beskerm, het die museum bygevoeg. Kenners het reeds ondersoek ingestel en bevestig dit is nie beskadig nie. Die werk sal Woensdag weer uitgestal word.

Omgewingsaktiviste het Maandag ook sjokoladekoek oor ʼn wasbeeld van Brittanje se koning Charles II gesmeer.

Die Just Stop Oil-betogers het in ʼn verklaring gesê hulle eis dat die regering “alle nuwe olie- en gaslisensies en toestemmings opskort”.

Volgens die polisie is vier mense in hegtenis geneem.

“Ons het vinnig reageer op ʼn voorval by Madame Tussauds ná twee mense omstreeks 10:50 kos op ʼn wasbeeld uitgegooi het. Hulle is in hegtenis geneem vir strafregtelike skade,” het die Metropolitaanse polisie op Twitter gesê.

Die polisie het later gesê nog twee mense is in hegtenis geneem op dieselfde aanklag.

Just Stop Oil het later in ʼn verklaring die betogers uitgeken as Eilidh McFadden (20) en Tom Johnson (29). “Hulle het hierdie betoging uitgevoer om hierdie groen en mooi land te beskerm, die erfenis van ons almal,” lui die verklaring.

Volgens Just Stop Oil is klimaatsverandering ʼn bestaanskrisis vir die mensdom.

Maroela Media het vroeër berig Just Stop Oil was ook verantwoordelik vir die tamatiesop wat oor die Van Gogh-skildery uitgegooi is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

N ·

Ek wil sien hoe probeer hulle olie en gas gebruik in Afrika stop.

Marthinus W ·

Oeganda en Tanzanie het juis nou n bakleiery met die EU aan die gang. n Oliepypleiding vanaf n meer in Oeganda, na die seehawe van Tanzanie, kan beide lande tot 1 biljoen dollar per jaar in die sak bring, en hulle ekonomies ophelp. Maar die EU druk hulle, dat dit nie “groen” is nie.

LANA is ELANè ·

Die spul leef in la-la land! Hulle besef nie eens dat ñ handjievol superryk sg filantrope verantwoordelik is vir hierdie kamtige groen inisiatief, waarin als eintlik net oor beheer en hul eie vraatsigheid gaan. Terwyl die gewone man se lewe agteruitgaan, omdat hulle verhoed word om ekonomies vooruit te gaan, agv al hierdie “malmense” wat hierdie superrykes se groen filosofie aanhang.

Marcello ·

Die “Koning” se beeld is nogal snaaks, ek dink baie mense voel so oor hom, a.g.v sy persoonlike lewe, en dan is “Camila” ook nog langs hom, wat deel van sy ontrouheid was.

Treurwilger ·

Sommige mense mag die gebeure komies vind, maar as hierdie tipe laakbare terrorisme nie in die kiem gesmoor en swaar gestraf word nie, gaan lang trane nog gehuil word oor onvervangbare historiese skatte.

Gaitsigubib ·

Met die prys wat is soos hy is kan hulle maar ons aartappels ook kom gooi. Ek gee n slingervel saam.

MakersMark ·

Social justice warriors – Gee hul mop en emmer dat hul die museum se vloer insluitende die kleedkamers elke dag moet mop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.