Monroe-skildery nou duurste kunswerk van sy soort

Andy Warhol se 1964 “Shot Sage Blue Marilyn” tydens ʼn perskonferensie op 21 Maart 2022 in New York (Foto: Timothy A. Clary/AFP)

Andy Warhol se Shot Sage Blue Marilyn-skildery van Marilyn Monroe is Maandag vir $195 miljoen (sowat R3 miljard) by die Christie’s-veiling in New York opgeveil. Dit is die duurste kunswerk in die styl van 20ste-eeuse kuns wat nog ooit verkoop is.

Dit is ook die duurste Amerikaanse kunswerk wat nog ooit verkoop is.

BBC berig die veiling het geëindig op ʼn verkoopprys van $170 miljoen (sowat R2,7 miljard) wat tot $195 miljoen gestyg het, met belasting en fooie in ag geneem.

Die vorige rekord vir die duurste 20ste-eeuse kunswerk is in 2015 opgestel, toe ʼn 1955-skildery deur Pablo Picasso, genaamd Les Femmes d’Alger (weergawe O), vir $179,4 miljoen (sowat R2,8 miljard) verkoop is.

Die vorige rekordprys vir ʼn Amerikaanse kunswerk was $110,5 miljoen (sowat R1,8 miljard) vir ʼn skildery van ʼn skedel. Dié skildery is in 1982 deur Warhol se vriend en ook mededinger, Jean-Michael Basquiat, geskilder.

Volgens die Christie’s-stigting gaan die opbrengs van die verkope aan die Switserland-gebaseerde Thomas en Doris Ammann-stigting, wat werk om gesondheidsorg- en opvoedingsprogramme vir kinders oor die hele wêreld te vestig.

The Guardian berig Shot Sage Blue Marilyn is een in ʼn reeks portrette wat Warhol van Monroe gemaak het ná haar dood in 1962. Dit het sedertdien een van dié ikoniese popkunstenaar se bekendste stukke geword.

Die skildery is geïnspireer deur ʼn reklamefoto van Monroe uit die 1953-rolprent Niagara. Monroe word vertoon met ʼn pienk gesig, rooi lippe, geel hare en blou oogskadu teen ʼn ligblou agtergrond.

George Frei, die voorsitter van die direksie van die Thomas en Doris Amman-stigting, het in Maart in ʼn verklaring gesê die skildery van Monroe “getuig van haar onverminderde visuele krag in die nuwe millennium”.

“Marilyn is weg en die verskriklike omstandighede van haar lewe en dood is vergete,” het Frei gesê. “Al wat oorbly, is die enigmatiese glimlag wat haar verbind met die geheimsinnige glimlag van die Mona Lisa.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Faraway ·

Geldgierigheid en ydelheid . . . in n tyd waar oorlog , hongersnood en groter ramp as Covid op ons wag

Johan ·

Nou maar goed, as jy te veel geld het, gee dit weg!! Daar kan baie gedoen word met R 3 miljard, ek hoop die nuwe eienaar van die swak kunswerk gee nog meer geld weg wat aantoon dat hy nie die waarde van geld besef nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.