‘Monster van ʼn sikloon’ tref Indië midde pandemiekrisis

‘n Man kondig Maandag Covid-19-maatreëls aan op ‘n private ambulansboot op die Dal-meer in Srinagar. (Foto: TAUSEEF MUSTAFA / AFP)

Die Indiese staat Gujarat sal na verwagting Maandagaand deur ’n sikloon van enorme omvang getref word.

Volgens die Indiese meteorologiese departement sal ’n “uiters ernstige sikloniese storm” na verwagting stormsterk wind van tussen 155-165 km/h – tot selfs 185 km/h – tussen 20:00 en 23:00 plaaslike tyd in Gujarat meebring.

Dít volg nadat sikloon Tauktae – wat reeds bekend staan as die grootste sikloon om die weste van Indië in 30 jaar te tref  –  reeds die afgelope naweek oor die Arabiese See beweeg het en die lewe van ses mense in die Indiese state Goa en Karnataka geëis het.

Sikloon Tauktae kan weens Indië se dodelike Covid-19-krisis kwalik op ʼn slegter tyd tref.

Meer as 100 000 mense moes 17 distrikte in Gujarat Sondag noodgedwonge verlaat terwyl alle gehospitaliseerde Covid-19-pasiënte in ’n 5 km-radius van die kus in afwagting van sikloon Tauktae na ander mediese sentrums oorgeplaas is.

Gujarat het alle inentings vir twee dae opgeskort terwyl die plaaslike owerhede spartel om te verseker dat daar geen kragonderbrekings in die byna 400 Covid-19-hospitale en 41 suurstofaanlegte in 12 distrikte aan die kus sal plaasvind nie. Die kusgebiede sal na verwagting die ergste deur sikloon Tauktae getref word.

“Altesame 1 383 rugsteunkragopwekkers is geïnstalleer om te verseker dat Covid-hospitale nie kragonderbrekings ondervind nie,” het Pankaj Kumar, ʼn senior plaaslike amptenaar, gesê.

In Moembaai is 580 Covid-19-pasiënte Sondag van drie veldhospitale af “na veiliger plekke” oorgeplaas. Dié stad het sy inentings vir een dag te midde van die storm opgeskort. Die Moembaai-lughawe is tans gesluit en inwoners word versoek om binnenshuis te bly.

Indiese amptenare sê die nodige Covid-19-protokolle – waaronder die dra van maskers, die handhaaf van sosiale afstand en die ontsmetting van hande – sal sover moontlik in skuilings vir mense wat na veiligheid gebring is, gehandhaaf word.

Vier mense is Saterdag dood toe swaar reën en stormsterk wind die staat Karnataka getref het. Nog twee is in die staat Goa dood.

Altesaam 23 vissers word intussen in Kerala vermis.

Indië, met ’n bevolking van 1,3 miljard mense, het die afgelope 24 uur 4 100 sterftes en 280 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld. Die digbevolkte land het reeds byna 25 miljoen gevalle sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie aangemeld nadat virusgevalle sedert begin April verdubbel het.

“Hierdie sikloon is ʼn verskriklike dubbele slag vir miljoene mense in Indië wie se gesinne deur ʼn rekordgetal Covid-infeksies en sterftes geteister word,” sê Udaya Regmi, verbonde aan die Internasionale Rooikruis.

Die organisasie help tans die Indiese owerhede om mense uit kusgebiede na veiliger gebiede te neem, doen noodhulp en help om kritieke Covid-19-voorkomingsmaatreëls te help handhaaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Samuel ·

Dit is beslis ‘n onwelkome storm hierdie. Die arme volk sukkel reeds so erg. Mens kan hulle net sterkte toewens.

annie ·

In die 14e eeu toe die sg swart-dood-pandemie menige sterftes tot gevolg gehad het, het ander erge rampe ook voorgekom. Aardbewings, vulkaanspuwings, insekplae en klimaatskokke. ‘n Brok uit die ruimte het in Sjina neergeplof wat duisende lewens gekos en selfs ‘n rivier se loop verander het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.