ʼn Hondekind genaamd Mr. Happy Face is die naweek as die wêreld se lelikste hond gekroon.
Dié 17-jarige Chinese kuifkophond, met sy punk-haarstyl en ʼn tong wat permanent aan die kant van sy mond uithang, het nege ander honde vir dié titel in die stof laat byt tydens die World’s Ugliest Dog Contest.
Die kompetisie word jaarliks in Petaluma in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië aangebied.
Die 41-jarige musikant Jeneda Benally van Arizona se hondekind het eindelik met die louere weggestap. Sy beskryf Mr. Happy Face as ʼn “oorlewende van mishandeling en verwaarlosing”.
Mr. Happy Face het aanvanklik in haglike omstandighede by ʼn opgaarder gewoon voordat Benally hom verlede jaar by ʼn diereskuiling aangeneem het.
“Ek het tydens die pandemie gehoop om óf ʼn baba te hê óf ʼn hond aan te neem. Aangesien ʼn baba ʼn daad van God sou wees, het ek gekies om ʼn hond aan te neem,” het Benally Vrydag tydens die kompetisie verduidelik.
Benally onthou dat die personeel van die diereskuiling haar verlede jaar met haar aankoms by die skuiling van ʼn ouer hond met gesondheidsprobleme vertel het. Hulle het ook nie doekies omgedraai oor Mr. Happy Face se voorkoms nie.
“Die personeel by die skuiling het my probeer voorberei op wat ek op die punt was om te sien. Ek het egter ʼn brak gesien wat inderdaad oud was, ʼn tweede kans nodig gehad het en verdien om geliefd te wees.”
Die veeartse het in daardie stadium verwag dat Mr. Happy Face met sy swak gesondheid moontlik net ʼn paar weke oorgehad het om te leef.
“Liefde, vriendelikheid en mamma-soene het hom gehelp om die kort lewe wat ons almal verwag het hy saam met ons gesin sou hê, te oorleef.”
Mr. Happy Face se stokperdjies sluit in “slaap, snork, blaf in sy slaap en om vreemde geluide te maak wanneer hy gelukkig is”, vertel sy ma.
Die organiseerders van die World’s Ugliest Dog Contest het tydens die kompetisie gesê honde van alle rasse en groottes het weereens vanjaar hul harte warm gemaak en hul lewe gevul met onvoorwaardelike liefde. “Hierdie wêreldbekende geleentheid vier die onvolmaakthede wat alle honde spesiaal en uniek maak.”
Jy is pragtig, Mr Happy Face. Ons hoop jy word nog báie jare vir jou geliefdes gespaar.
Jy het n baie goeie hart Jeneda. God seën jou.
Hy verdien ook om liefde, aandag en ‘n warm bedjie te he. Mense het hom seker nie aangeneem oor hy so lyk nie. Ek hoop jy word vir nog baie jare gespaar.
Lyk soos n vlermuis gemeng met n hiena. Dis wat hom so cute maak. So sweet:-)
Lyk vir my eerder na ‘n SA majority voter as na ‘n hond. Ek sê maar net….. alles is verwronge.