Mooiste modes op Oscars-tapyt te sien

(Foto: Angela Weiss/AFP)

Hollywood se toekenningseisoen is Sondagaand op ʼn hoë en stylvolle noot tydens die 95ste Oscar-toekennings by die Dolby-teater in Los Angeles, VSA, afgesluit. Simplistiese snitte, lang slepe en helder kleure het vanjaar op die rooi, oftewel sjampanje-kleurige, tapyt oorheers.

Bekendes se modes komplementeer nuwe tapyt

Vir die eerste keer in byna ses dekades het Oscars-organiseerders die kenmerkende rooi tapyt na ‘n sjampanje-skakering verander met bekendes soos Florence Pugh, Emily Blunt, Kate Hudson en Michelle Williams wat in skeppings in bypassende ligte skakerings van wit, silwer of room gepronk het.

Emily Blunt. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Voormalige Oscar-wenner, Halle Berry, het uitgestaan in ʼn wit halternekrok deur Tamara Ralph wat met glinsterende goue rose versier is. Die 56-jarige se rok het ook met ’n heuphoë spleet en lang sleep gespog.

Halle Berry. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Michelle Yeoh, wat vanjaar die Oscar vir beste aktrise gewen het vir haar rol in Everything Everywhere All at Once, het ʼn stylvolle, wit haute couture rok van Dior gekies en haar hare in los, sagte krulle vir die geleentheid gedra.

Michelle Yeou. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Jamie Lee Curtis, wat die beeldjie vir beste ondersteunende aktrise vir haar werk saam met Michelle gewen het, het haar slank lyf in ʼn wit, glinsterende langmou-kolomrok van Dolce & Gabbana beklemtoon.

Jamie Lee Curtis. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Hollywood-sterre staan uit in helder kleure

Angela Bassett, wat vanjaar benoem is vir haar rol in die Marvel-fliek, Black Panther: Wakanda Forever, het die sjampanje tapyt in ’n pers Moschino-rok met ’n groot strik en baie diamante opgehelder.

Angela Bassett. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die aktrise Hong Chau, wat benoem is vir haar rol teenoor Brendan Fraser in The Whale, het gestraal in ʼn moulose spookasempienk Prada-rok wat met ’n Mandarynse kraag en ’n swart sleep afgerond is.

Everything Everywhere All at Once se Stephanie Hsu het treffend in ʼn vrolike borrelgompienk Valentino-aandrok gelyk.

Stephanie Hsu. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Aktrises soos Salma Hayek, Melissa McCarthy, Sandra Oh en die model Cara Delevigne het in warm skakerings van rooi, oranje en geel uitgestaan.

Die sanger en aktrise Janelle Monae en die bekroonde Australiese aktrise, Cate Blanchett, het hul helder tweestuk-uitrustings met swart elemente gebalanseer.

Kerry Condon. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Die Ierse aktrise Kerry Condon, wat die grootskerm met Colin Farrell en Brendan Gleeson in The Banshees of Inisherin gedeel het, het in ‘n suurlemoengeel eenskouer Versace-rok gestraal.

Aktrise wys steun met modekeuse

Die aktrise Shohreh Aghdashloo het ʼn wit en swart skepping van Christian Siriano vir die Oscars-seremonie gedra, wat versier is met boodskappe om die onderdrukte vroue van Iran, haar geboorteland, te vereer.

Shohreh Aghdashloo. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Moenie van die manne vergeet nie

Brendan Fraser, wat vanjaar as die beste akteur vir sy rol in The Whale aangewys is, sowel as sy mede- Oscar-benoemde akteur, Austin Butler, het tradisionele swart pakke vir die aand gekies.

Austin, wat vir sy rol as Elvis Presley in Elvis benoem is, het wel ʼn paar Saint Laurent-stewels, wat aan dié van ʼn jonger Elvis herinner, na die Oscars-seremonie aangetrek.

Bekendes soos Samual L. Jackson, Dwayne Johnson en komediant Seth Rogan het hul pakke met interessante baadjies opgekikker. Johnson het op die tapyt vertel dat sy balletpienk baadjie deur sy drie dogters geïnspireer is.

Austin Butler. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Harry Shum Jr., wat destyds bekendheid verwerf het vir sy rol in Glee en nou ook in Everything Everywhere All at Once te sien is, het hulde aan sy Chinese herkoms gebring deur ʼn tradisionele pak met oosterse details te vermeng.

Harry Shum Jr. Foto: (Instagram/Harry Shum)

Bronne: AFP, Vogue, Harper’s Bazaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anonymouse ·

Jamie Lee Curtis en Angela Bassett word net mooier en mooier met ouderdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.