Moontlike deurbraak in stryd teen Ebola

Foto ter illustrasie. (Foto: killebolavirus.com) 

Die dodelike Ebola-virus kan moontlik binnekort voorkombaar en behandelbaar wees nadat twee entstowwe wat op die proef gestel is aansienlike vordering in die oorlewingskoers getoon het.

Vier verskillende entstowwe is tydens ʼn proefneming op pasiënte in die Demokratiese Republiek van die Kongo getoets waar ʼn uitbreking van Ebola vroeër vanjaar aangemeld is.

BBC berig die proefneming is in November verlede jaar deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) van stapel gestuur. Die verskillende entstowwe is op 700 pasiënte getoets waarvan die resultate van die eerste 499 nou bekend is.

Twee van die entstowwe, onderskeidelik bekend as REGN-EB3 en mAb114, werk deur die virus met teenliggame te takel en dus die impak van die virus met menslike selle te neutraliseer en is ontwikkel met behulp van teenliggame wat van oorlewendes van die Ebola-virus geoes is.

REGN-EB3 en mAb114 is die eerste entstowwe om ʼn beduidende afname in sterftes van Ebola-pasiënte toon, het dr. Anthony Fauci, direkteur by die Amerikaanse nasionale instituut vir allergieë en aansteeklike siektes (NIAID) gesê. Die instituut het die proefneming gedeeltelik gefinansier.

Die oorlewingskoers van pasiënte met lae vlakke van die virus in hul bloedstroom is so hoog soos 94% met die toedien van REGN-EB3 en 89% met die toedien van mAb114.

Argieffoto (September 2018) (Foto: AP Photo/Al-hadji Kudra Maliro, File)

Die resultate van die proefneming toon dus dat 90% van Ebola-pasiënte sal kan oorleef indien die virus betyds met ʼn effektiewe entstof behandel word. Die entstowwe van die proef sal dus voortaan in die Kongo gebruik word om pasiënte te behandel.

Die ander twee entstowwe in die proefneming, onderskeidelik bekend as ZMapp and Remdesivir, is egter laat vaar aangesien dit geblyk het om minder effektief te wees.

Volgens The Guardian is ZMapp voorheen tydens die Ebola-epidemie in Sierra Leone, Liberië en Guinee gebruik.

Die NIAID het die resultate as goeie nuus in die stryd teen Ebola bestempel. Die proefneming is nou afgehandel en alle behandelingseenhede sal voortaan pasiënte met REGN-EB3 en mAb114 behandel.

“Ons sal van nou af nie meer sê Ebola is ongeneesbaar nie,” het prof. Jean-Jacques Muyembe, direkteur-generaal van die nasionale biomediese navorsingsinstituut in die Kongo, wat toesig oor die proef gehou het, gesê.

“Hierdie vooruitgang sal duisende lewens red,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Aleshia ·

MAAR NIEMAND PROBEER IETS DOEN TEEN KANKER NIE DIS BELAGLIK

John ·

Dis nie totaal waar nie. Kanker verskil hemelsbreed (virusse wat ape en vlermuise soms dra kry vir ebola die skuld) van ebola en kanker is skynbaar ook nie aansteeklik nie. Weerstand en bygeloof, soos ander behandelings met buitelandse oorsprong, kry moeilik in Afrika voet in die siekekamer se deur. Selfs Westerlinge twyfel bv nou nog of maselenstof veilig is. Orals is daar vooroordele en weerstand, soms met goeie rede.

Aleshia ·

EN NIEMAND PROBEER IETS DAADWERKLIK DOEN OM KANKER TE GENEES NIE. NET VIGS EN EBOLA ENS KRY AANDAG. DIS BELAGLIK VERBY

Nettie ·

@Aleshia, daar is baie effektiewe maniere van kankerbehandeling. Ons is nog nie op die stadium waar daar bv. ‘n voorbehoedende inspuiting ontwikkel is wat kanker kan voorkom nie; kanker is ook nie ‘n siekte wat in enkelvorm voorkom, soos ebola wat deur ‘n spesifieke bakterie of virus veroorsaak word en dus só geteiken kan word nie.

Kanker – in die meeste gevalle – kan voorkom word deur ‘n gesonde lewensstyl en – gewoontes te volg, soos bv. om nie te rook nie en gesond te eet en te oefen en betyds by ‘n dokter uit te kom as jy enige gevaartekens of onverklaarbare simptome toon. Ek bevind myself in ‘n familie waar die kankermerkers uitsonderlik hoog is: ma het kanker, broer het kanker gehad, beide oumas is dood aan kanker en talle van familielede aan moederskant is óf reeds dood aan kanker of onlangs gediagnoseer met kanker op verskillende stadiums en verskillend van aard.

Vroeër was hartvatsiektes die groot “killer” onder SAners, vandag is dit kanker. Ongelukkig is dit ‘n realiteit wat ons maar moet aanvaar en beveg so ver ons kan.

Christo ·

Die natuur probeer nog die mens minder maak. Die mens op aarde is toetaal oorbevolk en dan pla ons nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.