Moord op jong meisie 60 jaar later opgelos

Marise Ann Chiverella, die 9-jarige wat in 1964 vermoor is. (Foto: Pennsylvania Polisie)

Danksy DNS-tegnologie en ʼn 20-jarige universiteitstudent is die raaiselmoord op die negejarige Marise Ann Chiverella amper ses dekades gelede nou opgelos.

Marise Ann se beweerde moordenaar is ook al meer as 40 jaar gelede oorlede, maar die raaisel van die jong meisie se dood in Pennsilvanië in 1964 het die dorpenaars nog al die jare aan die wonder.

Haar liggaam is destyds op 18 Maart in ʼn steenkoolput in Hazleton, noord van Pennsilvanië, gevind nadat sy die oggend op pad skool toe verdwyn het, berig The Times. Volgens die polisie is sy verkrag en verwurg.

Danksy ʼn 20-jarige bloedlynkenner en ʼn DNS-monster van die verdagte se oorskot, kon die polisie die oorlede James Paul Forte as haar moordenaar uitken. Forte was 22 jaar oud en ʼn kroegman ten tye van die moord, met ʼn geskiedenis van gewelddadige seksuele aanrandings, berig die nuuskanaal CBS.

Meer as 230 polisielede het oor die jare en generasies heen aan die moordsaak gewerk, maar Forte is eers in 2020 as moontlike verdagte geïdentifiseer. Eric Shubert, ʼn universiteitstudent en kenner van genetiese genealogie, het aangebied om as vrywilliger aan die saak te werk en het die stukkies van die legkaart begin aanmekaarsit. Een van Forte se oorlewende familielede kon ook help om die prentjie van sy stamboom in te kleur.

Forte is in 1980 op 38 jaar aan natuurlike oorsake oorlede. Die slagoffer se vier broers en susters was teenwoordig by ʼn mediakonferensie waar die nuus oor die ondersoek bekendgemaak is. Hulle het hul suster as soet en skaam beskryf en gesê ten tye van haar dood wou sy graag ʼn non word.

“Danksy die polisie van Pennsilvanië het geregtigheid vandag geskied,” het haar suster Garmen Marie Radtke tydens die mediakonferensie gesê.

Ron Marchetti, ʼn historikus wat sy hele lewe lank al op die dorp woon, sê die moord het die gemeenskap destyds geruk. “Mense sou daardie tyd nie eens hul deure sluit nie. Ek is net bly die raaisel is nou opgelos,” het hy aan CBS gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Miskien moet die man aan die onopgeloste
Stellenbosch saak werk