Moord van melkman ná 56 jaar opgelos

Hiram “Ross” Grayam (Foto: Indian River County Sheriff’s Office/Facebook)

Die Indian River-sheriffkantoor in die suidooste van Florida in die VSA sê hulle het die oudste koue saak in hul geskiedenis opgelos – die moord op Hiram “Ross” Grayam, ʼn veteraan van die Tweede Wêreldoorlog.

Grayam, wat ook die Purple Heart vir heldhaftigheid deur die Amerikaanse weermag ontvang het, “het die gruwels van die Ardenne-offensief beleef en die bevryding van twee konsentrasiekampe” voor hy  “ʼn geliefde melkman” geword het, het die departement in ʼn Facebook-plasing gesê.

Hy is op 11 April 1968 vermoor toe hy melk afgelewer het.

Die sheriff se kantoor sê sy moordenaar is uiteindelik uitgeken as Thomas J. Williams, wat 21 jaar oud was toe die misdaad gepleeg is en in 2016 gesterf het, berig CBS News.

Eric Flowers, sheriff van Indian River, het Donderdag gesê toe Grayam die laaste keer lewend gesien is, was twee mans saam met hom in sy afleweringsvoertuig. Die vragmotor is later in ʼn woud gevind. Grayam is langs die voertuig aangetref. Hy is “op teregstellingswyse vermoor”, het Flowers gesê. Hy is van sowat $70 beroof.

Die sheriff het gesê Williams het in 2006 ʼn verdagte geword toe Grayam se seun Larry Grayam, met die media gesels het oor die saak. Williams het ʼn brief aan ʼn plaaslike koerant gestuur om te ontken dat hy betrokke was.

“In daardie stadium was hy nie eens op iemand se radar nie, maar hy het homself in die misdaad ingevoeg en hy het ʼn verdagte geword,” het Larry Grayam Donderdag gesê, aldus TCPalm.

Die sheriff het gesê ná Williams, ʼn gewoontemisdadiger, gesterf het, het sy eksvrou en ʼn vriendin van sy suster onafhanklik na vore gekom om te sê hy het skuld aan hulle beken, berig CBS12.

Die sheriff het gesê hulle was “slegs bereid om met ons te praat omdat die man, wat só gewelddadig was, nou dood is”.

Flowers het gesê die ondersoekbeamptes ken die identiteit van die tweede verdagte en hoop dat iemand in die gemeenskap na vore sal kom met meer inligting.

Larry Grayam, wat 16 jaar oud was toe sy pa dood is, het gesê die verlies het hul gesin diep geraak. Sy ma is drie jaar ná sy pa se dood oorlede “weens ʼn gebroke hart”. Hy het Donderdag tydens ʼn perskonferensie saam met die sheriff gesê hy is “baie tevrede” dat die saak nou gesluit kan word.

1968 Cold Case Solved – Milkman Homicide In April of 1968, Hiram “Ross” Grayam set out on his familiar milk delivery…

Posted by Indian River County Sheriff's Office on Thursday, April 11, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Sjoe, ek weet darem nie of ék sou kon stilbly as iemand aan my gebieg het dat hy of sy ‘n moord gepleeg het nie …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.