Mosambiek-wrakstukke ‘hoogs waarskynlik’ dié van MH370

Liam Lotter, die tiener van KwaZulu-Natal, met die wrakstuk, vermoedelik deel van die vermiste Vlug MH370 van Malaysia Airlines Foto: Candace Lotter via AP

Liam Lotter, die tiener van KwaZulu-Natal, met die wrakstuk, vermoedelik deel van die vermiste Vlug MH370 van Malaysia Airlines Foto: Candace Lotter via AP

ʼn Minister in Australië het Donderdag gesê wrakstukke wat in Mosambiek opgetel is en vandeesweek in sy land aangekom het vir verdere ondersoek, is “hoogs waarskynlik” dié van die vermiste Malaysia Airlines Vlug MH370.

Darren Chester, minister van infrastruktuur en vervoer, het gesê die ondersoek van die twee stukke is afgehandel en die ondersoekspan het bevind dat albei stukke ooreenstem met panele van ʼn Malaysia Airlines Boeing 777.

“Die analise het bevind dat die wrakstukke byna met sekerheid van MH370 afkomstig is,” het Chester gesê. “Die feit dat die wrakstukke ook aan die ooskus van Afrika gevind is, stem ooreen met die dryfpatrone wat die [Statebond se Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsorganisasie] uitgevoer het en bevestig ons soektogpogings in die suidelike Indiese Oseaan.”

Die vliegtuig het in Maart 2014, met 239 passasiers en bemanning aan boord, onderweg tussen Kuala Lumpur en Beijing spoorloos verdwyn.

Die Australiese internasionale soekspan het nog nie die vliegtuig opgespoor nie. Dit het vermoedelik in die suidelike Indiese Oseaan neergestort.

Maroela Media het vroeër berig ʼn tiener van KwaZulu-Natal het tydens ʼn gesinsvakansie in Mosambiek een van die wrakstukke opgetel wat na Australië gestuur is.

ʼn Amerikaner het in Februarie vanjaar ook ʼn wrakstuk in Mosambiek opgetel wat na Australië gestuur is.

Lees alle vorige berigte oor Vlug MH370 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.