Die Mosambiekse weermag sê hy herwin stelselmatig sy grondgebied in die omgewing van die noordelike stad Palma nadat djihadiste met bande met die Islamitiese Staat (IS) dit vroeër oorgeneem het. Die weermag sê ʼn “beduidende” getal militante is sedertdien in skermutselings dood.
Palma het op 24 Maart in ʼn gekoördineerde aanval in die rebelle se hande beland in wat ʼn groot verskerping was van ʼn opstand en insypeling wat reeds langer as drie jaar in Cabo Delgado, die tuiste van groot gashulpbronne, woed.
Sondag het die weermag amptenare en joernaliste deur Palma begelei.
Bevelvoerder Chongo Vidigal, leier van die weermag se operasie om beheer van Palma terug te neem, het aan die staatstelevisiekanaal TVM gesê die gebied is nou “veilig” hoewel hy nie so ver wou gaan as om te sê die weermag het algehele beheer nie.
“Die vliegveld was die enigste wat ons moes opruim en buite gevaar stel. Ons het dit vanoggend [gister] afgehandel. Dit is heeltemal veilig,” het Vidigal gesê.
“Ek dink ʼn beduidende getal terroriste is geskiet,” het hy gesê. Volgens hom sal die owerhede later ʼn presiese getal bekend maak.
Duisende mense het uit die dorp met sy naastenby 75 000 inwoners gevlug. Tientalle mense is volgens die regering doodgemaak en die Franse energiereus Total het die perseel van sy multimiljardrand-gasaanleg verlate agtergelaat.
Beeldmateriaal van TVM wys hoe soldate inderhaas ʼn swart plastiekbedekking oor ʼn liggaam in die straat trek. Ander beelde wys die gebrande oorblyfsels van verskeie geboue, waaronder banke, die dorp se hospitaal en die kantoor van die staatsaanklaer.
Swaar gewapende soldate staan wag terwyl die paar oorblywende inwoners deur die rommel soek. Sommige het sakke graan bymekaargemaak, terwyl ʼn man gesien word wat ʼn verwoeste kraampie probeer opruim.
Cabo Delgado se goewerneur, Valvgi Tualibo, het ʼn rooskleuriger prentjie geskets en aangevoer Palma is terug onder die regering se beheer.
“Die situasie lyk nie goed nie, maar ons is opgewonde. Palma is honderd persent onder die beheer van die Mosambiekse owerhede,” het Tualibo aan TVM gesê.
Duisende Mosambiekse troepe is reeds voor die aanval op Palma in Cabo Delgado ontplooi, maar die weermag se onvermoë om die opstand te onderdruk word lankal reeds bevraagteken. Sommige ontleders wys onder meer op swak opleiding en ʼn gebrek aan toerusting.
Verskeie kenners het ook twyfel uitgespreek oor die owerhede se bewering dat hy Palma teruggeneem het.
“Daar is dalk dele wat veilig is, maar hulle is beslis nie in beheer nie,” sê Willem Els, ʼn senior opleidingskoördineerder verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).
“Insypelaars is steeds in die gebied,” het hy gewaarsku en bronne in die gebied daarvoor aangehaal. “Die enigste gedeelte wat in hierdie stadium werklik veilig is, is die gebied rondom Afungi.”
Veiligheidsmagte word versterk deur die Suid-Afrikaanse private militêre groep Dyck Advisory Group (DAG), maar sy kontrak met die regering verstryk vandeesweek.
DAG-stigter Lionel Dyck het bevestig hulle betrokkenheid eindig vandag.
“God help die mense,” het hy Maandag gesê en bygevoeg dat dit “onwaarskynlik” is dat soldate Palma teruggewen het.
Vidigal het gesê Total se gasaanleg, wat hy Vrydag ontruim het, is veilig. “Die fasiliteite is veilig, dit word beskerm.”
Al Total se oorblywende werkers het Vrydag die gebied verlaat, terwyl die Verenigde Nasies (VN) vlugte om burgerlikes uit die gebied te neem weens veiligheidskommer opgeskort het.
Volgens die VN het meer as 11 000 mense Palma die afgelope dae verlaat.
Rebelle is seker op pad na die volgende dorp toe.
Tualibo klink vir my leef ook in ‘n babbel soos ons SA regering
Ja hy babbel beslis, maar hy moet iets sê al praat hy net bog
Unfortunately this was only a test for these terrorists to see what kind of resistance they will encounter.
This is only the beginning.
Moes in die eerste plek oral in Mozambiek in beheer gewees het. Wat maak terroriste in julle land, en veral Moslem terroriste?
Hulle is hier by ons ook
GEEN groot olie maatskappy sal OOIT weet terugkeer na die street toe nie. Moz regering verloor nou TRILJOENE dollars !!!!
Mosambiek se regering soek nie buitelandse troepe in hul land nie maar dring op geld aan. “Aaaaah the african corruption flame is strong in this one…”
Ek moet saamstem, die is net n toets, en die groot oorname gaan kom… Mens jou die semels…
Cabo Delgado se inwoners is hoofsaaklik moslems, dus sal sommiges die terreurgroep ondersteun. Hulle word natuurlik ook met wrede teregstelling “sielkundig oorreed” om te help of te sterf. Het die moslem geloof al die radikale terreurgroepe se optrede verwerp en veroordeel?