Mosambiekse weermag gaan ‘skokvideo’ ondersoek

Die mans in uniform stap na die vrou (Foto: Skermskoot)

Die Mosambiekse weermag het Dinsdag gesê hy gaan ondersoek instel nadat ’n video aan die lig gekom het van mans, geklee in weermaguniforms, wat ʼn naakte vrou slaan en dan doodmaak. Die video is glo in die Cabo Delgado-provinsie in Mosambiek verfilm.

In die twee minuut lange video wat sedert Maandag versprei word, kan gesien word hoe ʼn groep mans in uniform die vrou aanval. Een van die mans slaan haar verskeie kere met ʼn stok oor die kop en lyf voordat ʼn ander een haar dan skiet. In die video kan gehoor word hoe een in Portugees sê “maak haar langs die pad dood”.

In die video kan ook gehoor word hoe die mans skree “jy is van Al-Sjabaab”, ʼn verwysing na die Islamitiese terreurgroep wat geruime tyd al in gewelddadige skermutselings met die Mosambiekse regering in Cabo Delgado betrokke is.

Volgens BBC het die Mosambiekse departement van verdediging die video veroordeel en as afskuwelik bestempel. Die departement het ook onderneem om die egtheid van die video te ondersoek.

Verskeie menseregtegroepe het reeds die voorval veroordeel.

In ʼn verklaring wat Maandag uitgereik is, sê die Mosambiekse weermag die video is skokkend en skrikwekkend en word dit ten sterkste veroordeel. Die verdedigings- en veiligheidsmagte (FDS) sê dat hulle nie saamstem met enige barbaarse daad wat menseregte skend nie.

Die video kom te midde van aantygings teen Mosambiekse regeringsoldate dat hulle lede van Al-Sjabaab in die Cabo Delgado-provinsie mishandel het.

Amnestie Internasionaal het Mosambiekse regeringsmagte daarvan beskuldig dat hulle vermeende lede van die groep gemartel, tereggestel en glo in massagrafte begrawe het.

Die organisasie het gesê sy navorsers het vyf video’s en drie foto’s wat van Mosambiekse bronne afkomstig is ontleed. Die soldate wat die gruweldade in die video’s pleeg, dra die uniforms van die Mosambiekse weermag (FADM) en die Rapid Intervention Unit (UIR) van die Mosambiekse polisie.

In verskeie video’s verwys die soldate na hul gevangenes as lede van Al-Sjabaab.

In die video’s praat die soldate Portugees en Tsonga, ʼn taal wat in die suide van Mosambiek gepraat word. Die soldate in die video’s verwys ook na onlangse gevegte in die hawestad Mocímboa da Praia, wat dit waarskynlik maak dat die video’s in of naby Cabo Delgado in die eerste helfte van vanjaar verfilm is.

Deprose Muchena, Amnestie Internasionaal se streekdirekteur vir Oos- en Suider-Afrika, het die optrede as ʼn skending van basiese menseregte bestempel. “Die misbruik wat toegeskryf word aan die Al-Sjabaab-groep kan nie verdere oortredings deur die veiligheidsmagte van Mosambiek regverdig nie,” sê Muchena.

Hy sê die regering van Mosambiek moet nou ʼn vinnige, deursigtige en onpartydige ondersoek loods om diegene verantwoordelik aan die pen te laat ry.

Mosambiek se ekstremistiese opstande het in Oktober 2017 in die noorde van die land in Cabo Delgado uitgebreek. Meer as 1 000 mense is reeds vermoor, hoofsaaklik deur die rebelle, en die gesamentlike sterftes staan op ʼn geraamde 1 854 wat sterftes aan albei kante van die stryd insluit.

Die rebelle het hul aanvalle die afgelope jaar dramaties verskerp. Verlede maand het hulle die strategiese hawestad Mocímboa da Praia verower en vir byna ʼn maand lank onder hul beheer gehad. Die regering het sedertdien glo troepe in die naaste dorpe, Mueda en Palma, opgeroep om die stad weer terug te neem.

Orlando Mudumane, woordvoerder van die Mosambiekse polisiemag, wou nie kommentaar op Amnestie Internasionaal se bewerings lewer nie. ʼn Woordvoerder van die land se departement van verdediging wou ook nie kommentaar lewer nie.

Volgens die Rooikruis het tussen 250 000 en 300 000 mense reeds weens die geweld uit die streek gevlug en skuiling in stede verder suid, waaronder ook Pemba, gaan soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Genis ·

Dis afgryslik… nou wil SA sy neus daar gaan indruk, om sulke boewery te beskem…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.