Motief vir München-skietery nog nie bevestig

Polisiebeamptes Vrydagaand (22 Julie 2016) buite die Olympia-winkelsentrum in München, Duitsland. Foto: Xinhua/Luo Huanhuan

Polisiebeamptes Vrydagaand (22 Julie 2016) buite die Olympia-winkelsentrum in München, Duitsland. Foto: Xinhua/Luo Huanhuan

Die rede vir die skietery Vrydag by ʼn winkelsentrum in München, Duitsland, waarin minstens nege mense dood is, is nog nie amptelik bevestig nie.

Hubertus Andrae, die plaaslike polisiehoof, het aan mediahuise gesê dit is nie duidelik of die skietery met terreur verband hou en of dit bloot “ʼn waansinnige skietery” was nie.

Daar is aanvanklik berig dat drie skieters vir die gru-aanval verantwoordelik was en ʼn uitgebreide soektog na twee van die skieters is van stapel gestuur. Internasionale media het egter Saterdagoggend berig dat daar slegs een skieter by die aanval betrokke was en dat berigte van drie skieters ontvang is nadat ooggetuies twee mans in ʼn motor van die toneel sien wegjaag het.

Die skieter, ʼn 18-jarige Duits-Iranese man, het glo ʼn pistool en ʼn rooi rugsak by hom gehad toe hy omstreeks 17:50 (plaaslike tyd) na willekeur in ʼn McDonald’s restaurant by die Olympia-winkelsentrum begin skiet het. Die man, wat glo die afgelope twee jaar in München gewoon het, het gevlug en homself glo sowat 1 km van die winkelsentrum af doodgeskiet. Sy rugsak is ondersoek vir ploftoestelle, maar die polisie het nie bevestig of enigiets gevind is nie.

Van die slagoffers is kinders en drie van die 16 mense wat gewond is, is in ʼn kritieke toestand. Duitse media het aanvanklik berig dat 15 mense doodgeskiet is, maar teen Saterdag het dit geblyk dat die amptelike dodetal nege is.

Ná die skietery is verskeie geboue in die Duitse stad ontruim. Die hele openbare vervoerstel is gestaak en mense is gevra om in hul huise te bly. Sommige van die inwoners het hul huise beskikbaar gestel vir mense om skuiling by te soek omdat hulle nie by hul eie huise kon uitkom nie.

Die land se teenterreur-eenhede is ontplooi en polisieversterking is van oor die hele land aangevra om aanvanklik na die beweerde ander twee skieters te help soek. ʼn Polisiewoordvoerder het gesê daar is tot 2 300 veiligheidspersoneel by die bedrywighede betrokke.

Verskeie geleenthede en byeenkomste wat vir die naweek beplan is, is intussen gekanselleer. Dit sluit ʼn bekende bierfees in wat Vrydag sou begin, asook ʼn groot musiekfees wat in die stad se Koenigsplatz gehou sou word.

Die regering se veiligheidskabinet sal Saterdag vergader om te besluit oor verdere optrede van die owerhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johann cb ·

Dit is vreesaanjaend as jy by ‘n sentrum instap en besef dat dieselfde lot jou en almal om jou ook enige oomblik kan tref. Jy wil nie daaraan dink nie, maar dit is tog in jou gedagtes. Ons glo net dat daar voldoende sekuriteit is om sulke terreur af te weer.

christine ·

Jys reg KarooKlonk hyt inderdaad dit nie gesien nie. Maar wat hy wel sien is n ontsaglike oorlog tussen Rusland en Amerika volgens hom gaan die bloed so dik stroom soos water na n sterk bui reen en Deutsland veg saam met Amerika teen die Russe. Kyk die twee knor alreeds vir mekaar.Hy sien wel die vlugtelinge hy sien ook dat hulle moeilikheid beteken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.