MotoGP-kampioen sterf ná ongeluk

Nicky Hayden. Foto: (AP Photo/Manu Fernandez, File)

Nicky Hayden, voormalige Amerikaanse MotoGP-kampioen, is dood nadat hy verlede week deur ʼn motor in Italië getref is terwyl hy fiets gery het.

Die Italiaanse hospitaal waar hy behandeling ontvang het ná die voorval, het sy dood bevestig.

Hayden is Woensdag deur ʼn motor raakgery terwyl hy op sy trapfiets geoefen het naby die kusdorpie Riccione. Hy het erge breinskade en borsbeserings in die ongeluk opgedoen.

Volgens ʼn verklaring van die Honda World Superbike Team was Hayden se verloofde, Jackie, asook sy ma en broer langs sy bed tydens sy dood.

Hayden, ook bekend as “The Kentucky Kid”, het die MotoGP in 2006 gewen en het sedert verlede jaar vir Team Honda gery.

Tommy Hayden, Nicky se broer, het die publiek bedank vir boodskappe van ondersteuning. “Dit is ʼn groot troos om te weet dat Nicky soveel mense se lewens op só ʼn positiewe wyse aangeraak het.”

Die bestuurder van die motor, ʼn 29-jarige man, word intussen ondersoek vir roekelose bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RIV69 ·

Werklik tragies, ek was ‘n groot ondersteuner van Nicky Hayden sedert hy in die Amerikaanse AMA opgang gemaak het, toe na MotoGP waar hy in 2006 as Wêreldkampioen gekroon is en later in die Wêreld-Superfietsklas kompiteer het. Dat hy juis sy lewe op ‘n trapfiets moet verloor is hartverskeurend. Sterkte aan sy verloofde, familie en vriende – sy glimlag en sportmangees sal my bybly. RIV 69

My mening ·

Onwillekeurig dink ek ook aan Schumacher. Hierdie ongeluk is weereens ‘n bewys dat motor-/motorfietsrenne nie so gevaarlik is waar daar behoorlike kontrole is oor omstandighede. Daarom gaan dit my verstand ten bowe wanneer daar in strate en paaie gejaag word soos mal derduiwels. Daar is renbane en gaan toets jou ‘vernuf’ daar waar jy gou genoeg gaan uitvind dat jy nie so watwonders is.
Hier waar ek bly sukkel ek maar tussen die klippe deur van grondstrate wat in ‘n bedenklike toestand is met my fiets eerder as om die hoofstraat te trotseer waar jy doodgery gaan word. Nou is dit ook so dat Italië seker nie derdewêrelds is soos ons.
Ek sien hy was maar 35 jaar oud. Sterkte aan sy naasbestaandes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.