Motorfietsryer sterf tydens botsing by Duitse Ysterman

(Foto: Ironmantri/Facebook)

ʼn Motorfietsryer, wat ʼn kameraman vervoer het wat die Ysterman-driekampkompetisie in Hamburg, Duitsland gedek het, is Sondag oorlede toe hulle met ʼn deelnemer gebots het.

Die motorfietsryer “is op die ongelukstoneel oorlede ondanks mediese bystand,” het Curt Wenzel, polisiebeampte van Hamburg, aan die uitsaaier NDR gesê.

Die deelnemer het fiets gery en het ernstige beserings tydens die botsing opgedoen. Hy is na ʼn hospitaal geneem.

Die kameraman het slegs geringe beserings opgedoen.

Die openbare uitsaaier ARD het dadelik die uitsending van die geleentheid gestaak ná die voorval, alhoewel die wedren voortgeduur het.

Deelnemers in die Hamburg-ysterman moet 3,8 km swem, 180 km fietsry en ʼn marathon hardloop. Hulle wedywer om die Europese titel in die byeenkoms en om te kwalifiseer vir die wêreldkampioenskap wat later vanjaar in Nice, Frankryk, plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.