Motorreus staak bedrywighede in Moskou

Die Franse motorreus Renault het bedrywighede by sy Moskou-fabriek gestaak. (Foto: Loic Venance / AFP)

Die Franse motorreus Renault het Woensdag aangekondig dat hy onmiddellik bedrywighede by sy Moskou-fabriek staak. Dít volg nadat Kiëf in Oekraïne ’n boikot van die maatskappy gevra het aangesien Renault hom nie aan Rusland onttrek het nie.

Maroela Media het vroeër berig dat groot handelsname soos McDonald’s, Coca-Cola en Starbucks ook hul bedrywighede in Rusland opgeskort het nadat dié land Oekraïne op 24 Februarie ingeval het.

Renault het in ʼn verklaring gesê die maatskappy oorweeg nou ook “die moontlike opsies” vir sy Russiese geaffilieerde AvtoVAZ, en bygevoeg dat hy sy finansiële vooruitsigte vir 2022 afgradeer het.

Dmytro Kuleba, Oekraïne se minister van buitelandse sake, het Woensdag vir ’n wêreldwye boikot van Renault gevra oor sy aanvanklike weiering om die Russiese mark te verlaat.

“Renault weier om hom aan Rusland te onttrek. Ek doen ’n beroep op kliënte en ondernemings regoor die wêreld om die Renault-groep te boikot,” het sy inskrywing op Twitter gelui.

Renault het in sy verklaring wat later dieselfde uitgereik is, gesê die groep se “aktiwiteite in sy vervaardigingsaanleg in Moskou word van vandag [Woensdag] af opgeskort”.

Kuleba het ná die aankondiging getwiet dat hy Renault se verklaring oor die staking van nywerheidsaktiwiteite in Rusland verwelkom.

Hy het dit as ʼn “verantwoordelike stap teen die agtergrond van Rusland se voortslepende barbaarse aggressie teen Oekraïne” beskryf.

Renault, wat deels in staatsbesit is, het sy produksie by sy aanlegte naby Moskou verlede maand opgeskort maar dit daarna glo hervat.

Rusland se voorste motorvervaardiger, AvtoVAZ, is deel van die Renault-Nissan-groep met die Franse maatskappy wat 69% daarvan besit.

Westerse motorvervaardigers het die afgelope twee dekades na Rusland uitgebrei om motors te monteer namate die land se ekonomie gegroei het.

Renault is veral blootgestel omdat hy saam met Rostec, ’n staatsbeheerde verdedigingkonglomeraat wat bestuur word deur ’n gesanksioneerde noue bondgenoot van pres. Wladimir Poetin, in AvtoVAZ belê het.

“Wat sy belang in AvtoVAZ betref, oorweeg die Renault-groep die beskikbare opsies, met inagneming van die huidige omgewing, terwyl hy verantwoordelik optree teenoor sy 45 000 werknemers in Rusland,” lui die motorreus se verklaring.

Die maatskappy het voorts gesê hy voldoen aan internasionale sanksies teen Rusland.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sheree ·

Hoekom die arme mense van Rusland straf vir Putin se aksies? Hulle het nie gevra vir die oorlog nie.

Perdeby ·

So al die ander lande kan maar Renault boikot, en niks voertuie by hulle aankoop, hoeveel mense in die hele wereld gaan dan werkloos wees? Vra maar net.

JohanR ·

Dan is dit hulle veranwoordlikheid om nou van Putin ontslae te raak!

Samuel ·

Ek is dit eens met sanksies teen Rusland, maar wat daarvan as dit boomerang?

E ·

Sanksies of nie sanksies nie, dat die hele wereld tussen die diep blou see en ‘n warm plek is, is al wat ons seker kan wees.

andre ·

Alle aanduidings is dat Frankryk binnekort deur Marine le Pen gelei sal word . n Interessante omkeer in Franse politiek is aan die kom. Tensy hulle met die stembusse lol.

Anna-marie ·

Daar is nie ‘n kans dar die EU sal toelaat dat Marine le Pen die leier sal word nie, net soos daar ook nie toe gelaat was dat Trump weer verkies word nie. Stemmery is net om die mense te troos, net sodat mense moet dink dit werk. Die waarheid is dat daar groter magte is wat besluit wie regeer in watter land. Hierdie magte sal sorg dat die huidige leier weer verkies word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.