Mueller-verslag: ‘Trump het nié met Moskou saamgesweer’

Pres. Donald Trump. Foto: AP Photo/Evan Vucci

Die spesiale ondersoeker Robert Mueller wat bewerings van Russiese inmenging in Amerikaanse president Donald Trump se 2016-verkiesing ondersoek het, het bevind daar was geen sameswering tussen hom of sy veldtog en Moskou nie.

Die Amerikaanse prokureur-generaal, William Barr, het ʼn opsomming van die ondersoekverslag Sondagaand bekendgemaak.

Hoewel die ondersoek bevind het Moskou het beslis ingemeng by die 2016-verkiesing, het Barr in die samevattende verslag gesê daar was geen bewyse dat lede van die Trump-veldtog saamgesweer of saamgewerk het met die Russiese regering in sy inmengingbedrywighede nie.

Trump het verklaar dat hy in dié verslag heeltemal vrygespreek is en gesê die ondersoek was ʼn poging om hom uit die kussings te lig, wat misluk het.

Oor nog ʼn sleutelkwessie, of Trump probeer het om die gereg te dwarsboom deur in te meng met die ondersoek na Rusland se betrokkenheid, was Barr se samevatting van Mueller se verslag minder duidelik. Hy het gesê oor dié aspek het Mueller se verslag “nie bevind dat die president ʼn misdaad gepleeg het nie, maar spreek die verslag hom ook nie vry nie”.

Hy het bygevoeg dat hy en die adjunk-prokureur-generaal, Rod Rosenstein, bewyse gevind het “wat nie genoeg is om te beslis dat die president hom aan dwarsboming van die gereg skuldig gemaak het nie”.

Dit is onwaarskynlik dat die opsomming van die verslag ʼn einde sal bring aan die omstredenheid rondom Russiese inmenging en Trump se rol daarin, ʼn kwessie wat die nasie verdeel het. Die Withuis en Trump se ondersteuners was verheug oor die verslag en meen dit spreek die president vry van enige oortredings, maar sy teenstaanders bevraagteken of die bewoording in die verslag nie dubbelsinnig is nie.

“Die bevindings van die departement van justisie is ʼn totale en algehele kwytskelding van die president van die VSA,” het Trump se woordvoerder, Sarah Huckabee Sanders, gesê. Jerrold Nadler, die demokratiese voorsitter van die justisiekomitee in die huis van verteenwoordigers, het egter aangevoer daar is “baie kommerwekkende teenstrydighede” in die verslag en “Mueller het nie die president vrygespreek nie”. Hy het bygevoeg hy sal ʼn oproep doen dat Barr voor die kongrespaneel kom getuig.

Robert Mueller (Foto: Wikipedia)

Die Demokrate het daarop aangedring dat die verslag in sy geheel bekendgemaak word en het gedreig om hul kongresmagte te gebruik om die volledige verslag en al die ondersteunende dokumentasie te bekom. Volgens wet word die spesiale ondersoeker se verslag slegs aan die prokureur-generaal voorgelê en hy is by magte om die verslag te weerhou of slegs gedeeltes daarvan bekend te maak. Trump was ook ten gunste van bekendmaking van die verslag.

Voor daar besluit word of die verslag bekendgemaak kan word, moet Barr bepaal of daar enige inligting rakende nasionale sekuriteit is wat verwyder moet word. Tydens Mueller se ondersoek is daar onderhoude met meer as 500 getuies gevoer, 500 besoeke met lasbriewe is uitgevoer en 2 800 dagvaardings om dokumente te bekom is uitgereik in net meer as 22 maande.

Die Amerikaanse intelligensiedienste het kort voordat Trump sy intrek in die Withuis geneem het, bevind Rusland het deur middel van aanlynpropaganda en die kraak van e-posse by die verkiesingsveldtog in die VSA ingemeng tot voordeel van Trump en tot nadeel van sy teenstaander, Hillary Clinton.

Vyf belangrike lede van die Trump-span, onder wie veldtogvoorsitter Paul Manafort, sy persoonlike prokureur Michael Cohen, en voormalige nasionale veiligheidsadviseur Michael Flynn, is skuldig bevind op verskeie aanklagte as gevolg van die Mueller-ondersoek. Die aanklagte sluit in oneerlikheid gedurende ʼn ondersoek en belasting- en finansiële bedrog wat nie verband hou met Rusland se rol in die sage nie.

Die Mueller-ondersoek het beslis daar was ongetwyfeld Russiese inmenging tydens die verkiesing, maar in ʼn verraderlike en indirekte manier. Barr het gesê Mueller het bevind daar was twee hoofpogings deur die Russe om die uitslag van die verkiesing te beïnvloed.

“Die eerste het pogings deur die Russiese organisasie, die Internet Research Agency, behels om valse inligting en sosiale media-aksies in die VSA uit te voer om sosiale onmin te saai,” het die verslag gesê.

Die tweede was Russiese agente wat die rekenaars en e-posse van die Demokratiese Party en Clinton gekraak het en inligting deur WikiLeaks en ander bronne versprei het.

Barr het genoem dat Mueller strafregtelike aanklagte teen verskeie Russiese burgers en entiteite aanhangig gemaak het in verband met die inmengingsaksies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

gatiep ·

Hehe ou nuus vir my.
Weet al van die begin dit was net n heksejag gewees op Trump.
Enige mens wat gebeurtenis dopgehou het kon dit sien.

willem Botha ·

Die wêreld hou nie van n reguit man met inbors en wat n probleem aanspreek soos dit is sonder vrees en dit dan regmaak nie .Die land waar ons bly mag jy nie verwys na n swart persoon.in die media nie ,go figure.

Gert ·

Lyk my ook al inmenging wat die Russe gedoen het was om Crooked Hilary se gekonkel openbaar te maak, so dis net eintlik positief, die stemproses was nie geaffekteer nie.

John ·

… maar Hillary sal nie rus nie en nog minder die demokrate/solsialiste/EU/grensloses/Soros/Obama/Nazi’s/Palestyne/Sjina/Mexiko/Venezuela en al wagtende toekomstige moontlike beautiful kandidate vir die prez se joppie. Trump word selfs teengestaan deur die CIA/FBI/Pentagon/Navo wat doen wat hul wil en ‘n nuwe oorlogsone wil skep in Rusland en reeds kwaai skoor soek op die grens met Ukraìne.

Rupert Ashford ·

Mens kan nie regtig die gereg dwarsboom as daar nie ‘n motief is nie, en met die dat Mueller nie enige sameswering kom bewys nie, val die dwarsboming storie ook plat. Die Prokureur Generaal (Rosenstein), hoof van die FBI ens se baas is almal die President in Amerika, so dit is moeilik om enige gesprekke tussen die partye as dwarsboming te beskryf (hoewel dit ‘n fyn lyn is). As mens kyk na die definisie van sameswering kan daar egter vrae gevra word wanneer dit algemene kennis raak dat politieke groepe (wat toevallig teen Pres Trump die verkiesing geveg het) betaal het vir die opstel van ‘n sekere dossier waarop die hele ondersoek gebasseer word, dwarsboming wanneer sekere dinge se bewoording verwater moet word na ‘n “insident” en getuienis vernietig word met hamers en bleikmiddel eerder as om oorhandig te word op versoek van die FBI… Verder kan mens boekdele skryf oor regerings se inmenging in ander lande se verkiesings (die VSA is oral – Arabiese lente?, Obama se voorskryf vir die Britte hoe om te stem tydens die Brexit referendum, Suid-Afrika se regering in sy buurlande se verkiesings [aktief of deur hulle blind te hou]) – soos Jordan Peterson se: Maak eers jou kamer aan die kant voor jy die wereld probeer voorskryf hoe hulle moet optree.

Jakes Jacobs ·

Ja, dit wys weereens dat die demokrate nie kan vat om te verloor nie. Praat net die waarheid, die waarheid kom altyd uit.

Therese van Schalkwyk ·

Geen verrassing vir ingeligte, regdenkende mense nie.
Die ironie steeds verbysterend; Amerika het ‘n geskiedenis van inmenging by buitelandse verkiesings.
Die onDemokrate beplan ook reeds die volgende episode van die heksejag.
Opsweping en histerie. Teleurstellend dat soveel mense hul laat meesleur.

Spikkels ·

Trump Haters, die Libs en Dems gaan nie dit aanvaar nie. Trump doen wondere vir Amerika en die klomp haters kan dit nie aanvaar nie hul wil hul land sien ondergaan en vir satan se kinders dit gee nes dit in SA gaan. You go Trump one Christian Nation

Annie Webb ·

Aangesien die “dwarsboming van die gereg” gebaseer is op Trump se afdanking van Comey (oor sy skelmstreke in die FBI se ondersoek na Hillary se skelmstreke!) is dit nonsens. Die pres stel die prokureur-generaal aan en kan hom afdank sonder om redes te gee. Dis sy reg. Aldus Mark Levin, grondwetkenner. Die Dems en die linkse media sal met mag en mening hulle heksejag voortsit, aangesien hulle niks positiefs het om te bied nie. En veral aangesien die sosialistiese en anti-Semitiese Dem nuwelinge in die Kongres rede tot groot verleentheid en kommer is en die publiek se aandag dus afgelei moet word.

Ronnie ·

Daar is net ‘n vier bladsy opsomming vrygestel deur Barr wat deels lees: “While this report does not conclude that the president committed a crime, it also does not exonerate him.”
Tyd sal leer hoeveel van die Mueller verslag Barr gaan vrystel aan die kongres en hoeveel aan die publiek. Die vólle waarheid sal dalk jare neem om bekend te raak omdat metodes en inligtingsbronne beskerm moet word. Maar die deel wat die publiek móét weet om ingeligte besluite te kan neem in die volgende verkiesing, gaan met baie moeite en baie struweling en baie hofsake bekom word.
Hou maar ingedagte dat Al Capone is vasgetrek op grond van belasting ontduiking en nie van moord nie. Manafort is in die gevangenis vir kriminele oortredings van dieselfde aard plus….. Cohan meld binnekort aan en dit gaan weereens oor wanpraktyke tov GELD. Dieselfde lot gaan Trump en sy korrupte kroos tref.
Jy sal weet Trump is ‘n landsverraaier as jy gekyk het na die direkte uitsending van die Helsinki sage en na sy warm verwelkoming van Lavrov en Kislyak in die WH. Net die Russiese media was toegelaat en daar is geen rekord van wat hy en Poetin bespreek het nie. Wat het hy om weg te steek? Hoekom glo hy Poetin eerder as sy eie Inligtings instansies?
Hy sal sy persoonlike finansies en kriminele bedrywighede net vir so lank kan wegsteek. Hy is ‘n roekelose besigheidsman en glad nie so ryk as wat hy voorgee nie.
Die Barr opsomming is irrelevant.

Annie Webb ·

Wanneer kry ons jou boek, Ronnie? “Ronnie’s America and the World; Every Conspiracy You’ve Never Wanted To Hear About”. Ek sê dit met ‘n glimlag, Ronnie. Jy is geregtig op jou opinie en dis vir seker altyd vir my nuus. Al lees ek hóéveel VSA-nuus, joune is áltyd iets hééltemal anders. Dalk is jy die enigste een wat regtig insae het, wie weet? Doe zo voort!

Izak ·

Politiek bly ‘n vuil spel.
Daar is niks so vernietigend as haat en afguns nie.
Die demokrate sal heel waarskynlik een verklaring wat gefabriseer is vat en dit voor hou as ‘n deeltjie van die verslag wat Tump gaan impliseer.
Ek wonder of die dom liberale dink die Konserwatiewes is onnosel.

Pietman ·

En nou vir ‘n ondersoek na hoofstroom media en Hollywood se bevooroordeelde invloed op die verkiesing.

Melanie ·

Die demokrate weet nie wat hulle het nie .. totdat Trump nie meer daar is nie. Hulle moet hier kom bly vir ‘n rukkie. Hulle sal Trump terug verwelkom met ope arms. MM, julle het nie my vorige kommentaar geplaas nie. Toe herhaal ek dit. Kom ons kyk wat julle nou besluit.

Fran ·

Ronnie, ek het soveel respek vir hierdie waardevolle inset van jou. Sal jy asb weer en meer skryf, want hoe is dit dan dat die meerderheid sukkel om gesonde verstand te gebruik? Trump en sy kroos is en bly korrup.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.