‘Mugabe en familie is veilig’

Genl. Constantino Chiwenga, Zimbabwe se weermagbevelvoerder. Foto: ANA

ZBC, Zimbabwe se staatsuitsaaier, het vroeg Woensdagoggend ʼn regstreekse uitsending gedra van ʼn man in militêre uniform wat gesê het die 93-jarige pres. Robert Mugabe en sy familie “is veilig”.

Die onverwagse uitsending kom te midde van vrese van ʼn weermagoorname in reaksie op die afdanking van Mugabe se adjunk, Emmerson Mnangagwa.

Die militêre woordvoerder het Zimbabwiërs aangemoedig om “werk toe te gaan soos normaalweg”. Hy het gesê die weermag sal slegs teen “misdadigers” optree. Volgens AFP het die militêre beampte in die toespraak op regstreekse televisie ontken dat daar ʼn staatsgreep aan die gang is. Hy beweer die weermag teiken “misdadigers rondom pres. Mugabe”.

Dit is onduidelik waar die weermagbevelvoerder, genl. Constantino Chiwenga, homself bevind – ure nadat Mugabe se regerende Zanu PF gesê het sy uitsprake Maandag dat die weermag sal ingryp, kom op hoogverraad neer.

Gewapende Zimbabwiese soldate sit op ʼn weermagtenk in Harare in Zimbabwe (15 November 2017). Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Intussen is minstens drie ontploffings vroeg Woensdagoggend in Harare, Zimbabwe se hoofstad, gehoor en militêre voertuie kon in die strate gesien word. Die Amerikaanse ambassade het Dinsdagaand sy deure gesluit en sy burgers aangeraai om skuiling te vind weens “voortdurende politieke onsekerheid deur die nag”.

Die Britse ambassade het ʼn soortgelyke waarskuwing aan sy burgers in Zimbabwe uitgereik met verwysing na “berigte van ongewone militêre aktiwiteit”.

Vir die eerste keer is daar openlike vyandigheid tussen die land se weermag en Mugabe, die wêreld se oudste staatshoof wat sedert 1980 aan bewind is. Die weermag vorm ʼn sleutelpilaar van sy mag in die land.

The Associated Press het gewapende soldate gesien wat in die vroeë oggendure in Harare verbygangers aanrand, asook soldate wat ammunisie laai naby ʼn groep van vier militêre voertuie. Die ontploffings kon naby die kampus van die University of Zimbabwe gehoor word. Hierdie verwikkelinge kom ure nadat die AP gesien het hoe gepantserde voertuie in ʼn konvooi na die weermagbarakke net buite die hoofstad op pad is.

Weermagtenks op pad na Harare (Foto via ANA)

Mugabe het Mnangagwa verlede week afgedank en hom daarvan beskuldig dat hy beplan om beheer van die land oor te neem, onder meer deur heksery. Mnangagwa, wat die weermag se steun geniet en eens gesien is as ʼn moontlike president, het uit die land gevlug en gesê hy word gedreig. Dissiplinêre stappe is teen meer as 100 senior beamptes wat hom na bewering ondersteun het ingestel deur ʼn faksie wat met Mugabe se vrou, Grace, verbind word.

Die presidentsvrou is skynbaar nou gereed om Mnangagwa te vervang as een van die land se twee adjunkpresidente by ʼn spesiale konferensie van die regerende party in Desember, wat aanduidend daarvan is dat sy moontlik haar man as president kan opvolg. Grace Mugabe is ongewild onder sommige Zimbabwiërs as gevolg van haar spandabelrige leefstyl terwyl so baie mense in die land sukkel om te oorleef. Vier mense wat haar na bewering onlangs by ʼn geleentheid uitgejou het, is in hegtenis geneem.

Die president het Dinsdag ʼn weeklikse kabinetsvergadering bygewoon toe die eerste militêre voertuie gesien is. Dit is nie duidelik waar Grace haarself bevind nie.

Chiwenga, die weermagbevelvoerder, het Maandag ʼn ongekende verklaring uitgereik waarin hy gesê het die verwydering van senior ZANU-PF-amptenare, baie wat soos Mnangagwa vir vryheid geveg het, moet “dadelik” stopgesit word.

“Ons moet diegene agter hierdie verraderlike kaskenades herinner dat wanneer dit kom by die beskerming van ons rewolusie, die weermag nie sal huiwer om in te tree nie,” het hy gesê. Die staatsuitsaaier het nie oor hierdie verklaring van Chiwenga berig nie.

Die regerende party se jeugliga, wat hulself by die 52-jarige Grace skaar, het Dinsdag die weermagbevelvoerder se uitspraak gekritiseer en gesê hulle is “gereed om vir Mugabe te sterf”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Brandwag ·

Ek hoop ons weermag het daaraan gedink om weerbaarheid op ons grense te verskerp!!!

Pieter ·

Ons weermag is so vrot dat selfs die ou Kol Breytenbach se 32 Battaljon sou die huidige weermag in ‘n oggend platloop.

Salomon Pienaar ·

Ai die nuus media en hul feite
Eers is almal in blydskap gedompel,die weermag gaan n staatsgreep uitoefen en dis die einde van die nerf.
Nou is dit die weermag wat hom beskerm.
I’m in a pool of confusion

wonder ·

Veilig? Hulle skuil seker iewers in n luukse hotel in Sandton?

Tess ·

En ons wil weet dat hy veilig is omdat? ons omgee? Toe nou nie!

Aitoggie ·

Watter weermag?? S.A kon laas nie eens kos gee vir sy weermagslede nie.

Basson ·

IS die gerug waar dat Waterkloof LMB baie besig was laas nag?

Dorinraad ·

Dit sal wonderlik wees as die Mugabe bewind na soveel jare van onderdrukking tot ‘n val kan kom. Mens hoop maar net as dit gebeur, die volgende leier nie dieselfde pad volg nie… Afrika politiek is ongelukkig nie stories met goeie eindes nie. Steeds, meeste mense sal glo enige iemand is beter as Mugabe en dat die land vinnig weer sal herstel… Tyd sal leer.

Doringraad ·

Dit sal wonderlik wees as die Mugabe bewind na soveel jare van onderdrukking tot ‘n val kan kom. Mens hoop maar net as dit gebeur, die volgende leier nie dieselfde pad volg nie… Afrika politiek is ongelukkig nie stories met goeie eindes nie. Steeds, meeste mense sal glo enige iemand is beter as Mugabe en dat die land vinnig weer sal herstel… Tyd sal leer.

Emma ·

Ek voel vere vir die Mugabes na wat hul aan die mense gedoen het, sit seker in RSA is mos veilig vir hulle hier

EMMA ·

Voel vere vir die Mugabes na wat hul gedoen al die mense, sit seker veilig in die RSA mos hul boeties wat hul so beskerm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.