Mugabe ‘in hospitaal in Singapoer’ dood

Oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe saam met sy vrou Grace. (Foto: GCIS)

Oudpres. Robert Mugabe is na wat berig word in ʼn hospitaal in Singapoer dood omring deur familielede onder wie sy vrou, Grace.

ZimLive berig anonieme bronne het hierdie inligting aan die nuusagentskap bevestig.

Mugabe was 95 jaar oud en het lank met swak gesondheid gesukkel. Hy was die afgelope paar jaar verskeie kere in Singapoer om mediese behandeling te ontvang.

Maroela Media het vroeër berig pres. Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe het op Twitter Mugabe se dood bevestig en hom geloof as “’n ikoon van vryheid”. Verskeie boodskappe van medelye is op sosiale media gedeel nadat die nuus oor sy dood bekend geword het.

Fadzayi Mahere, Zimbabwe se sekretaris van onderwys, sport, kuns en kultuur, het op Twitter gesê: “Rus in vrede, Robert Mugabe. My reaksie op jou dood is kompleks. Ek gaan ʼn lang stuk skryf. Maar vir nou, [my] diepste medelye aan sy familie.”

Mugabe was ʼn omstrede wêreldleier wat deur talle blameer word vir Zimbabwe se algehele ekonomiese ineenstorting. Hy het in 1980 Zimbabwe se eerste minister geword en in 1987 die amp tot niet gemaak en president geword.

Weermaglede in November 2017 in die strate van Harare kort voor Mugabe se uittrede. (Foto: Tsvangirayi Mukwazhi, AP)

Mugabe is in sy vroeë jare as staatshoof geloof dat hy toegang tot gesondheid en onderwys vir die swart meerderheid bewerkstellig het. Sy omstrede grondhervormingsprogram het egter tot erge ekonomiese agteruitgang gelei en sy later jare as leier is geken deur regteskendings en korrupsie.

Mugabe het op 21 November 2017 bedank as president ná 37 jaar as staatshoof, nadat hy deur die weermag en voormalige politieke bondgenote gedwing is om die leisels oor te gee.

Destyds, toe Mugabe se bedanking aangekondig is, het verheugde Zimbabwiërs die strate van Harare ingevaar om jubelend die nuus te vier. Uit Suid-Afrikaanse geledere is Mugabe se bedanking grootliks verwelkom.

Mugabe is op 21 Februarie 1924 in die destydse Rhodesië gebore.

Teen 07:30 het die Suid-Afrikaanse regering nog nie op die nuus oor Mugabe se dood gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae