‘Mugabe is mal’

Robert Mugabe (Foto: Wikimedia Commons)

Themba Mliswa, voormalige lid van Zanu-PF en LP, het op Twitter uitgevaar teen pres. Robert Mugabe.

Dit kom ná Mugabe nié Sondagaand soos verwag as president van dié land bedank het tydens ʼn regstreekse uitsending op die openbare uitsaaier ZBC nie.

“Hy het nie eens van die sentralekomiteevergadering wat vandag gehou is gepraat nie; dit is die laaste stuiptrekkings van ʼn sterwende perd. Die party is verhewe bo die onderhandelinge en hulle het ooreengestem om hom te skors. Ons het gehoop hy bedank met bietjie integriteit, maar nou het hy alles in gedrang geplaas, en ons as parlement plaas hom in ʼn staat van beskuldiging. Die party het hom afgedank,” het Mliswa gesê.

Mliswa het ook gesê dat Mugabe “mal” is.

Dié uitsending het gekom nadat die Zanu-PF Mugabe Sondagmiddag minder as 24 uur gegee het om óf as president te bedank óf in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word. Mugabe en sy vrou, Grace, is Sondag die trekpas deur die party gegee. Zanu-PF het Mugabe van sy pligte as president van die party onthef, en Grace is ook van haar rol as leier van die Zanu-PF se vroueliga onthef.

Emmerson Mnangagwa, die voormalige adjunkpresident wat onlangs die trekpas gekry het, is as president van die party aangestel. Ander lede van die party wat ook die trekpas gekry het, is Ignatius Chombo, Jonathan Moyo, Saviour Kasukuwere en Patrick Zhuwao. Phelekezela Mphoko is ook as visepresident afgedank.

Mugabe het tydens dié toespraak, wat deur talle as “vreemd” bestempel is, gesê dat hy sommige van die gebeure van die laaste week verstaan, maar het nie ʼn enkele keer van sy afdanking deur die Zanu-PF melding gemaak nie.

Talle meen hy is hoopvol dat hy president sal bly tot die Zanu-PF se kongres wat in Desember vanjaar gaan plaasvind, aangesien Mugabe in sy toespraak melding gemaak het dat hy oor dié kongres sal “toesig hou”.

Buitelandse nuusdienste soos BBC en Reuters het dié toespraak “verbluffend” genoem en gesê dit is waarskynlik Mugabe se manier om alle kwessies te probeer vermy tot dit ʼn mespunt bereik. Sommige berigte het selfs aangevoer dat Mugabe dalk ʼn gedeelte van die toespraak uitgelaat het.

“Die weermag het ʼn gegronde besorgdheid gehad dat die regerende party van sy missie afvallig geraak het. Die vreedsaamheid en selfbeheersing van Zimbabwiërs moet bewonder word. As die president van die land erken ek die kwessies waarop die weermag my aandag gevestig het. Hulle het dit uit besorgdheid vir die volk gedoen. Ons kan egter nie gelei word deur bitterheid of wraakgevoelens nie,” het hy gesê.

Christopher Mutsvangwa, leier van die Zimbabwiese oorlogsveterane, het Sondagaand bevestig dat die party sal voortgaan om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas omdat hy besluit het om nié te bedank nie. Hy het gesê betogers sal dié week weer opruk na die strate en eis dat Mugabe uit sy amp verwyder word.

Dit is nog onduidelik wat die toekoms vir Zimbabwe inhou. Die situasie in Zimbabwe kan volgens kenners nou op verskillende maniere ontvou. Mugabe kan steeds as president van die land bedank of hy kan in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. ʼn Verklaring is nog nié deur die regerende party uitgereik nie.

Lees ook op Maroela Media: Dít sal die gevolge wees indien Mugabe in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Daar is beslis hulp van buite vir Mogabe en sy toespraak is moontlik vir hom geskryf… mens kan raai deur wie. Twee wilde ou perde met skuim om die tanelose kiewe trek die waggelende Suider-Afrikaanse waentjies die afgrond in en beide hoop Desember gaan nog weelde in hul stukkende stink kouse optower.

jan_alleman ·

ongelukkig is daar te veel mense in die land wat weier om die werklikheid raak te sien en dit gaan almal baie duur te staan kom

Leahim ·

Weereens n bewys dat daar n groot verskil is tussen n bevrydings regering en n demokratiese regering en dit gee my hoop vir Suid Afrika want die skrif is teen die muur vir die anc regering die opposisie eet vir hulle soos n olifant happie vir happie.

Johann Marx ·

Leahim, dis net jammer mense verstaan nie die verskil tussen “Verteenwoordigende Demokrasie” en “Deelnemende Demokrasie” nie. SA het ‘n verteenwoordigende demokrasie….met ander woorde AL demokratiese “reg” wat jy het, is om elke 4 jaar vir ‘n party te stem……….daarna “verteenwoordig” hulle jou en maak soos hulle wil, en jy betaal vir alles en dra die gevolge. As hierdie ‘n “deelnemende demokrasie” was, sou daar oor elke groot regeringsbesluit wat die bevolking beïnvloed ‘n referendum gehou word…..die “mense” sou die uitslag bepaal, en die regering sou dit implementeer.

Alida ·

Hoeveel aanklagtes moet mens hê om in ‘n staat van beskuldiging geplaas te word en dan afgedank te word. Is 783 nie genoeg nie?

afrika kind ·

Suid Afrika, look, listen and learn. voor ons mooi weet word edward of duduzani as prossie ingehuldig.

Colin Brokensha ·

Ek dink nie hy het onthou hoekom hy moes praat nie. Net geweet hy moes iets oor als sê

MANIE ·

Ek kon die opskrif van die artikel al dertig jaar terug bevestig het

chuck ·

That country was one of the best. I grew up there. the best earth was so good for farming if you planted a stone in the ground it would grow

Willie ·

Mens kannie glo met die kamtige wereld wette, met veral mense regte, dat dit toegelaat word, dat sulke monsters wat plunder in posisie gehou word! Maar ja die UK, en die lande voel mos jammer vir die Afrika siele, gee, leer, verberg ents! SA is op die selfde pad! Afrika is Afrika, met die groot Afrika Virus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.