Mugabe merk glo Grace se doktoraat

Robert en Grace Mugabe. Foto: GCIS

Robert en Grace Mugabe. Foto: GCIS

ʼn Senior Zimbabwiese regeringsbeampte het Vrydag uitgevaar teen berigte dat president Robert Mugabe sy vrou, Grace, se doktoraat nagesien het.

Jonathan Moyo, minister van inligting, het gesê Oppah Muchinguri, uittredende hoof van die Zanu-PF-vroueliga, se uitlatings is “uit verband geruk”. “Die bewering dat die president die skripsie in die tegniese sin nagesien het, kan slegs op Mars nuus maak,” het Moyo aan die Herald-koerant, waarvan hy glo in beheer is, gesê.

“Dit is algemene praktyk vir enige skrywer, insluitend persone in die media, om vir kollegas, sibbes, eggenote of vriende te vra om kommentaar te lewer op hulle konsepweergawes. Dié kommentaar het altyd ten doel om die werk te verbeter en nie om dit te laat slaag of druip nie,” het hy gesê.
Muchinguri het vroeër die week tydens ʼn saamtrek in Mazowe, noord van Harare, gesê Grace Mugabe het slapelose nagte gehad terwyl sy vir haar doktorsgraad studeer het, “terwyl president Mugabe dit nagesien het”.

Haar uitlatings het opnuut ʼn herrie veroorsaak oor die doktorsgraad wat deur die Universiteit van Zimbabwe aan Grace toegeken is, glo twee maande nadat sy daarvoor begin studeer het. Talle Zimbabwiërs glo dat die graad op ʼn bedrieglike wyse aan Grace, ʼn voormalige tikster, toegeken is om steun te verleen aan haar nuwe politieke loopbaan.

Die 49-jarige Grace gaan oorneem as hoof van die Zanu-PF se vroueliga en het al te kenne gegee dat sy ambisie het om president te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaques ·

Jip, sy gaan ‘n Banana graad he….. Net reg vir ;n perfekte Banana republiek!

Jaques ·

Jip, sy gaan ‘n Banana graad he….. Net reg vir ‘n perfekte Banana republiek!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.