Mugabe nie meer WGO-ambassadeur ná herrie

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe.

Zimbabwiese president Robert Mugabe is van sy pos as welwillendheidsambassadeur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onthef nadat dié aanstelling wyd opslae gemaak het.

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het Mugabe (93) Woensdag tydens ʼn WGO-vergadering oor chroniese siektes in Uruguay in die grootliks seremoniële pos aangestel. Tedros het ten tyde van die aanstelling Zimbabwe geloof as “ʼn land wat universele gesondheidsdekking en gesondheidsbevordering as die kern van sy beleidstellings stel om gesondheidsorg aan almal te lewer”.

Tedros het Sondag in ʼn verklaring gesê hy het sedertdien geluister na diegene wat hul kommer oor die aanstelling uitgespreek het asook na die “verskillende kwessies” wat geopper is.

“Oor die afgelope paar dae het ek besin oor my aanstelling [van Mugabe] as welwillendheidsambassadeur vir nie-oordraagbare siektes in Afrika. Ek het gevolglik besluit om die aanstelling terug te trek,” het Tedros gesê. “Ek het ook met die regering van Zimbabwe gepraat en ons het saamgestem dat die besluit in die beste belange van die WGO is.”

Verskeie voormalige en huidige WGO-personeel het gesê hulle is geskok deur Tedros se “swak oordeel” en “mistasting” met die aanstelling. Mugabe word deur die Weste beskuldig dat hy Zimbabwe se ekonomie verwoes en verskeie menseregte oortree het in die 37 jaar dat hy president of eerste minister van die land was.

Brittanje het gesê Mugabe se aanstelling as welwillendheidsambassadeur vir nie-oordraagbare siektes in Afrika is “verrassend en teleurstellend”. Die land het gewaarsku die aanstelling kan moontlik die WGO se goeie werk wêreldwyd oorskadu.

Die VSA, wat sanksies op Mugabe ingestel het oor beweerde menseregteoortredings, het ook gesê hy is teleurgesteld deur die aanstelling. Die Amerikaanse administrasie van pres. Donald Trump, wat reeds sy finansiële ondersteuning van sommige programme van agentskappe van die Verenigde Nasies bevraagteken, is die WGO se grootste enkele skenker.

Die omstredenheid rakende Mugabe kom te midde van die WGO se pogings om sy reputasie te herstel nadat hy daarvan beskuldig is dat hy traag was om die ebola-epidemie te takel wat van 2014 tot 2015 meer as 11 000 mense in Wes-Afrika se dood veroorsaak het.

Die organisasie sukkel tans ook met ʼn massiewe cholera-uitbreking in Jemen wat ongeveer 800 000 mense in die afgelope jaar geïnfekteer het, asook ʼn uitbreking van builepes in Madagaskar wat in die afgelope twee maande al meer as 100 mense se dood veroorsaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Eish ·

Tedros het seker tehore gekom van Grace se panties uitdelerery.

msp ·

Nou het die WGO sy reputasie nog meer skade aangedoen. Kan jy glo dat hulle mugabe aangestel het. Wys jou hoe swak die WGO is. Genade tog. Wat gaan ons nog volgende hoor.

DJ ·

Kan nie Glo dat die man Tedros in daai Posisie aangestel in die eerste plek, is om so besluit te kan maak nie.

Leahim ·

Al wat Zimbabwe gaan red is om daai land te koloniseer en kundiges toe te laat om daai land weer op te bou sodat hy weer sy status kan terug kry soos toe dit Rhodesië was

Johanna Botha ·

As zim se medies so goed is hoekom vlieg mugabe na ander lande vir behandeling. Die man wat die besluit geneem het bly seker onder n klip en weet niks van wat eintlik in zim aangaan nie. Wat van al die mense wat vermoor was in Matabeleland . Die WGO behoort Tedros in die pad te steek ..regtig n skande !

Boet Fasie ·

Gelukkig kan mens net lag vir Thedros se grappie, Mugabe hoort in die tronk vir menseregte skendings in Zimbabwe, wat wou welwillendsheids ambassedeur, wat maak dit vir Grace.

Willem ·

Liewe hemel! Leef hierdie dekselse mense in la-la-land of wat!?

snoefie ·

dalk het greedy grace hom met nverlengingskoird verras voor die aanstelling.

Daan ·

Met ‘n vrou (een van hoeveel) wat mense aanrand en wegkom daarmee?

Vryheid ·

Bob is n grap, n bejaarde wat dink hy gaan vir ewig lewe. Wie hoor hom nog- wie steur hul nog aan hom. Afrika leiers wat dink die buiteland gee n duiwel om vir Afrika en sy mense….. HUL DOEN NIE!

Moeilikheid ·

Ek is nou doodernstig. Jacob Zuma sou n beter kanidaat wees as Robert Mugabe! Van nou of vat ek WHO riglyne met n knippie sout.

Wdp ·

Great stuur dan al die zimbos terug om gratis gesondheid in zim te kry

Rupert Ashford ·

En dit se vir mens hoe ernstig mens die WGO en die VN moet opneem.

Therese van Schalkwyk ·

Ek hoor jou.
En moenie vergeet dat die geagte Jackie Selebi, korrupte hoof van SA Polisie, jare gelede as die Hoof van Interpol aangestel is nie!
Hoe langer ‘n mens leef, lees en hoor wat in die wêreld aangaan, hoe minder respek kán daar wees vir mense en instansies wat in die verlede gesaghebbend was en eintlik behóórt te wees.

Neels ·

Ja-nee, so sorg hulle vir mekaar
“Tedros Adhanom Ghebreyesus is an Ethiopian politician, academic, and public-health authority as well as Director-General of the World Health Organization. “

Domvraag ·

Tedros alias Rip von Winkel het wakker geword. Op watter planeet is Terdos of moet hy self dalk behandeling kry vir dimensie om Mugabe te oorweeg het vir ambassadeur? Kan jy glo dat die WGO van die VN so oningelig kan wees want dis nie net Tedros wat skuldig is hier nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.