Mugabe se toespraak verstom

Robert Mugabe (Foto: Wikimedia Commons)

Pres. Robert Mugabe van Zimbabwe het nié Sondagaand soos verwag as president van dié land bedank tydens ʼn regstreekse uitsending op die openbare uitsaaier ZBC nie.

Dié uitsending kom nadat die Zanu-PF Mugabe Sondagmiddag minder as 24 uur gegee het om as president te bedank óf om in ʼn staat van beskuldiging geplaas te word. Mugabe en sy vrou, Grace, is Sondag die trekpas deur die party gegee. Zanu-PF het Mugabe van sy pligte as president van die party onthef, en Grace is ook van haar rol as leier van die Zanu-PF se vroueliga onthef.

Emmerson Mnangagwa, die voormalige adjunkpresident wat onlangs die trekpas gekry het, is as president van die party aangestel. Ander lede van die party wat ook die trekpas gekry het, is Ignatius Chombo, Jonathan Moyo, Saviour Kasukuwere en Patrick Zhuwao. Phelekezela Mphoko is ook as visepresident afgedank.

Mugabe het tydens dié toespraak, wat deur talle as “vreemd” bestempel is, gesê dat hy sommige van die gebeure van die laaste week verstaan, maar het nie ʼn enkele keer van sy afdanking deur die Zanu-PF melding gemaak nie.

Talle meen hy is hoopvol dat hy president sal bly tot die Zanu-PF se kongres wat in Desember vanjaar gaan plaasvind, aangesien Mugabe in sy toespraak melding gemaak het dat hy oor dié kongres sal “toesig hou”.

Buitelandse nuusdienste soos BBC en Reuters het dié toespraak “verbluffend” genoem en gesê dit is waarskynlik Mugabe se manier om alle kwessies te probeer vermy tot dit ʼn mespunt bereik. Sommige berigte het selfs aangevoer dat Mugabe dalk ʼn gedeelte van die toespraak uitgelaat het.

“Die weermag het ʼn gegronde besorgdheid gehad dat die regerende party van sy missie afvallig geraak het. Die vreedsaamheid en selfbeheersing van Zimbabwiërs moet bewonder word. As die president van die land erken ek die kwessies waarop die weermag my aandag gevestig het. Hulle het dit uit besorgdheid vir die volk gedoen. Ons kan egter nie gelei word deur bitterheid of wraakgevoelens nie,” het hy gesê.

Christopher Mutsvangwa, leier van die Zimbabwiese oorlogsveterane, het Sondagaand bevestig dat die party sal voortgaan om Mugabe in ʼn staat van beskuldiging te plaas omdat hy besluit het om nié te bedank nie. Hy het gesê betogers sal dié week weer opruk na die strate en eis dat Mugabe uit sy amp verwyder word.

Dit is nog onduidelik wat die toekoms vir Zimbabwe inhou. Die situasie in Zimbabwe kan volgens kenners nou op verskillende maniere ontvou. Mugabe kan steeds as president van die land bedank of hy kan in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. ʼn Verklaring is nog nié deur die regerende party uitgereik nie.

Lees ook op Maroela Media: Dít sal die gevolge wees indien Mugabe in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

Lees meer oor Zimbabwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Rupert Ashford ·

Hy moet oppas. Tot dusver is hy met baie deernis behandel maar Afrika hanteer hulle despote meestal anders.

Paul ·

Hoe bedoel jy, Rupert?

Ek kan nie aan een despoot uit Afrika dink wat uiteindelik ‘n “verdiende loon” gekry het nie. Ja, heelwat van hulle is ná dekades uit die kussings gelig, om maar net in ander sagte kussings iewers in ‘n ander land te gaan neerlê en gemaklik te lewe tot hul oudag. Idi Amin is in 2003 in Saoedi-Arabië dood, Mobuto in 1997 in Marokko, Mengistu leef steeds gemaklik in Zimbabwe. Hastings Banda is in 1997 in Suid-Afrika dood. Neyere is in 1999 in Engeland oorlede. Kwame Nhkruma, kwalik ‘n despoot, maar tog, het nadat hy afgesit is, gemaklik in Guinee gaan leef vir die res van sy lewe.

Dis omtrent net Ghadaffi en Moebarak wat werklik opdraand gekry het. Bokassa het ook, nadat hy eers vir ‘n tyd lank lekker geleef het in Frankryk, so paar jaar in die tronk deurgebring, maar is vinnig vrygelaat en het ook sy oudag gemaklik deurgebring.

Jy is dus reg dat Afrika despote “anders” behandel…

Rupert Ashford ·

Paul Kabila het Mobutu soos ‘n hond uit DRC gejaag. As Mobutu en baie van die ander wat jy noem nie so vinnig kon hardloop nie was hulle einde heel anders. Kabila?

Anoniem ·

Wat ‘n onderskatting van die Landsburgers se intelligensie want Hulle geduld gaan op raak en ONS weet al wat gaan dan GEBEUR ! Mnr Mugabe het vergeet wat het gebeur met Idi Amin, Saddam Hoesein en Gadaffi en Ander wat vir EIE gewin wou aan regeer en wat teen die wil van die MENSE was ! ??

Pop ·

Nou is hy gou om te praat van bitterheid en wraak. Huh, maar dis wat hy verkondig en uitgeleef het teenoor wittes vir37 jr. Kyk waar sit die land nou??ons is helaas vinniger oppad na dieselfde. Dis of die volkere van afrika net eenvoudig nie kan sien as iets nie reg is nie. Selfs al gaan hulle dood van ellende en honger sal hulle nie erken die regerings is aan die verkeerd optree nie.

Rupert Ashford ·

Dit is hoekom die VN en die VSA (CIA) se alewige inmengery om “demokrasie” en “one man one vote” oral te vestig so ‘n klug is. Dit werk slegs in sekere dele van die wereld. In Afrika word dit soos die ou NP vaders gese het “one man one vote once only” en daarna begin die gekonkel en korrupsie en diefstal.

Zimpatie? ·

As sy eie mense nou nog nie besef dat Mugabe nie groot is op onderhandelinge nie… Dis waarskynlik waarom nommer 2 landuit gevlug het na sy afdanking.

Gebruik dieselfde metodiek as wat Mugabe nog al die jare van mense rondom hom onstlae geraak het – boere, oposisie leiers… Voor iemand dink hierdie man verdien ‘n mooi einde op sy oudag, gaan kyk in die argiewe hoeveel mense se lewens Mugabe sedert 1980 verwoes het sonder eninge simpatie of respek vir sy medemens. Een positiewe aspek van die huidige gebeure is dat die algemene publiek in Zimbabwe klaarblyklik genoeg gehad het en veranderinge wil sien in hulle land. Hoop net die volgende leier sit nie Mugabe se eiesugtige gedrag voort nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.