Mugabe verskyn in openbaar

Zimbabwe se president Robert Mugabe arriveer by die gradeplegtigheid van die Zimbabwe Open University op die buitewyke van Harare (17 November 2017). Foto: AP Photo/Ben Curtis

Pres. Robert Mugabe het Vrydag sy eerste openbare verskyning gemaak sedert die Zimbabwiese regering vroeër vandeesweek beheer van dié Afrika-land geneem het.

Dit laat vrae ontstaan of die einde van Mugabe se 37 jaar-ampstermyn wel op die kaarte is.

Mugabe het ʼn universiteitsgradeplegtigheid in Harare bygewoon. Geklee in ʼn blou en geel akademiese toga en hoed, het die 93-jarige president in ʼn groot houtstoel voor in die saal gesit. Hy is deur luide toejuiging begroet toe hy die seremonie amptelik geopen het.

Intussen het die Zimbabwiese weermag gesê hy het vordering gemaak in sy onderhandelinge met Mugabe. “Sedert ons laaste opdatering oor die verwikkelinge in die land, wil ons graag die nasie inlig dat ons aansienlike vordering met ons operasie gemaak het. Ons kan rekenskap gee van sommige van die misdadigers, terwyl ander nog op vrye voet is,” het die weermag Vrydagoggend vroeg in ʼn verklaring gesê.

“Ons is tans in gesprek met die hoofbevelvoerder [Mugabe] oor die pad vorentoe en ons sal julle so gou as moontlik inlig oor die uitkoms.”

Die weermag het ʼn beroep op ander veiligheidsdienste gedoen om voort te gaan met hul bedrywighede en verpligtinge sonder om die weermag se operasie te belemmer. Die weermag het ook “sekere individue en groepe binne die samelewing” gewaarsku om nie namens die weermag te praat nie.

Geen besonderhede is gegee oor die vergadering tussen Mugabe en weermaggenerale, insluitend genl. Constantine Chiwenga, die leier van die oorname, nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kiepie ·

1e Paragraaf moet wees “weermag” ipv “regering vroeër vandeesweek…..”

?? ·

Die ‘regering’ het beheer geneem??
Ek sou sê die ‘weermag’??

V ·

Die ironie… Die argitek van verwoesting gee grade aan die toekoms bouers… En dan begroet hulle hom met ‘n luide toejuiging. Seker maar ‘n swanesang, hopelik…

Kat ·

Siener het geskryf dat ons grense vergroot gaan word.Is dit die begin daarvan wonder ek.

matewis ·

Wanneer gaan die wereld uitvind dat die weermag nie vir Mugabe onder huisarres geplaas het en hom uit die kussings wil lig nie, maar waarskynlik deur Mugabe ingeroep is om hom te beskerm teen die sterk teenstand en aanslag op hom wat besig is om op te laai!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.