Mugabe voor parlement gedaag oor vermiste diamant-inkomste

Robert Mugabe (Foto: Wikimedia Commons)

Robert Mugabe, voormalige president van Zimbabwe, is gedagvaar om voor die land se parlementêre komitee oor myne en mynonwikkeling te verskyn om vrae te beantwoord oor diamantbedryfkorrupsie ten tyde van sy presidentskap.

Mugabe word nie vervolg nie, maar sal na verwagting verbale bewyse oor die mynbedrywighede by die Marange-diamantvelde lewer. Só het Mail&Guardian berig en vir Tema Mliswa, die komitee se voorsitter, aangehaal.

Volgens mediaberigte het Mugabe self een keer erken dat daar nog nie rekenskap gegee is vir sowat $15 miljard van die diamantinkomste nie.

Die media het bygevoeg dat die komitee reeds van die land se hoës soos Obert Mpofu, minister van binnelandse sake, Didymus Mutasa, voormalige minister van staatsekuriteit en Ignatius Chobo, voormalige minister van polisie, gedagvaar het om rekenskap te gee vir die vermiste inkomste.

Mugabe (93) het vir meer as 30 jaar as president en eerste minister gedien tot Zanu PF, die regerende party, hom gedwing het om te bedank in November 2017.

Die media berig Mugabe het glo $10 miljoen as deel van ʼn ooreenkoms ontvang toe hy bedank het, sowel as immuniteit van vervolging.

Pres. Emmerson Mnangagwa het Mugabe se immuniteit van die hand gewys.

Marange se diamantvelde is in 2006 oopgemaak. Kundiges beraam dit is die grootste operasionele diamantskat en is goter as 300 kubieke myl.

Marange Resources behoort aan die Zimbabwe Mining Development Corporation (ZMDC) wat in staatsbesit is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

… en skielik kan die oom niks meer onthou nie en die antie is in die buiteland…die kinders, jy weet. Diamante het mos nogal die manier om mens stom te slaan.

Oom Kalahari ·

Natuurlik sou Oom Bob die vingers in die skatkis plaas en daai blink klippies is mos maar die goedjies wat die geldsakkie aanvul. Geen wonder Antie Grace kon so lekker reis, groot partytjies hou, van die beste klere in Singapore koop asook juwele en dokters besoeke daar, beste voertuie aanskaf en het vele plase in Zimbabwe. Nee kyk as rykdom en die skatkis jou lewe oorneem, weet ek nie hoe wil jy eendag al daai rykdom in jou kis inprop om saam te neem nie.

Alida ·

En nou is oom Bob ook in die bollie net soos Zuma. Hulle het mekaar mos van raad en daad voorsien. Ai tog die een blinde lei die ander what a joke !!!

Skandelik ·

Dis darem ‘n skande dat hy soveel miljoene dollars gekry het terwyl MEESTE Mense in Zimbabwe hongerly. Hy het daarvoor gesorg dat die land ondergaan en 94% mense sonder werk sit maar steeds het hy sakke vol geld gehad .. die armes het heeltemal ondergegaan . sonder werk, sonder ‘n heenkome, sonder huise , sonder ‘n inkomste .. MAAR aan die ander kant het hierdie einste mense STEEDS ZANU PF gestem . en saam met hom wit boere verjaag .. so jy MAAI maar wat jy GESAAI het …

Boerseun ·

Hulle soek nie hom nie. Hulle is agter die engelsmanne aan wat hom betaal het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.