Musk maak dié week enorme ruimtesprong

Bob Behnken in sy SpaceX-ruimtepak. (Foto: SpaceX via AP)

Op 27 Mei maak die oud-Suid-Afrikaner Elon Musk ’n reuseruimtesprong wanneer sy Amerikaanse maatskappy SpaceX die eerste private maatskappy word om mense na die ruimte neem.

Dit sal ook die eerste keer in nege jaar wees dat ʼn ruimtetuig met Amerikaners van Amerikaanse grondgebied gelanseer word. Bob Behnken en Doug Hurley sal vanaf die Kennedy-ruimtesentrum aan boord van SpaceX se ruimtekapsule Crew Dragon, gelanseer deur die nou bekende Falcon 9-vuurpyl, na die Internasionale Ruimtestasie vertrek.

Bob Behnken en Doug Hurley in hul byderwetse SpaceX-ruimtepakke. (Foto: SpaceX via AP)

Die byderwetse ruimtepakke wat SpaceX spesiaal vir die reis gemaak het, het mense ook behoorlik aan die gons.

Die reis staan as #LaunchAmerica bekend en die publiek word genooi om virtueel daaraan deel te neem. Meer besonderhede kan hier en hier bekom word. Musk se lank gekoesterde ideaal is om Mars bewoonbaar te maak en SpaceX werk onverpoosd aan die ontwikkeling van tegnologie om dit veilig en bekostigbaar te kan doen.

Nasa se planne om op “diep ruimtereise” te fokus en die ruimte na aan die aarde aan private maatskappye oor te laat, het Musk se Mars-drome nader aan die werklikheid gebring deurdat SpaceX tegnologie kon ontwikkel om belangrike dele van gebruikte tuie herhaaldelik te kan hergebruik nadat dit self na die aarde teruggekeer het en hersien is.

‘n SpaceX Falcon 9-vuurpyl en die Crew Dragon-ruimtekapsule. (Foto: Bill Ingalls/NASA via AP)

Die gevolg is dat die koste per persoon wat die ruimte ingestuur word, skerp gedaal het. Dit kos Nasa nou $55 miljoen per ruimtevaarder om die Internasionale Ruimtestasie te bereik deur Space X in te span. So ’n reis deur die destydse pendeltuigprogram het die VSA $1,6 miljard gekos. Sedert die pendelprogram in 2011 geskrap is, het die VSA meer as $86 miljoen per kaartjie aan Rusland betaal om hul ruimtevaarders met die Sojoes-vuurpyl by die ruimtestasie te kry.

Nog net drie lande, die VSA, Rusland en China kon daarin slaag om bemande ruimtereise te onderneem.

‘n SpaceX Falcon 9-vuurpyl en die Crew Dragon-ruimtekapsule. (Foto: SpaceX via AP)

Die nuwe verwikkeling stel ruimtetoerisme as moontlikheid in die vooruitsig. Benewens SpaceX is ander Amerikaanse maatskappye ook aan die wikkel om mense na die ruimte te neem, waaronder Blue Origin en Boeing.

Ruimtetoerisme sal na verwagting ook lande inspireer om meer aandag te skenk om ruimtereise veiliger te maak deur planne te maak met ruimterommel. Dié kwessie het pas weer aandag gekry toe ’n ruimtevoorwerp wat aanvanklik as ʼn asteroïde geïdentifiseer is en in 2002 die naam J002E3 gekry het, geblyk het die fase 2-deel van ’n Saturn-vuurpyl te wees uit die tyd van die Apollo-reise na die maan. Die deel het nadat dit afgehaak het, uiteindelik in ’n wentelbaan om die son beland, maar moes daar weer losgebreek het en na die aarde teruggekeer het (lees meer hier).

Die planne behels nog goedkoper ruimtereise. Dit maak ook deel uit van Nasa se opvolgprogram, Artemis, om teen 2024 vir die eerste keer in meer as 50 jaar weer mense na die maan te neem, en daarna na Mars.

Die akteur Tom Cruise beplan na berig word om ook na die ruimte te reis, en ʼn rolprent aan boord van die Internasionale Ruimtestasie te skiet.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Adam Adriaan ·

Hou die mannetjie dop. Daar is meer dan dit wat verkondig word agter hierdie storie. Tyd sal leer

JohanR ·

Is daar plek vir President Nkosazana Dlamini-Zuma met ‘n een rigting kaartjie? Suid Afrikaners sal in hulle miljoene geld insamel vir haar duur kaartjie van $27.5 miljoen, of nou R480 miljoen. Ek spring weg met R10000.

capie ·

Spring jy my nou voor. Daar is nog wat kkan saamgaan, eenrigting kaartjie

Boerkind ·

Ai tog…. die geld vir die kaartjie die het ek – my vrou het tot my eie beskermende drag gemaak om koste te bespaar (masker) … maar nou mag ek nie my huis verlaat as dit nie iediootsensil is nie… wat nou? Miskien moet ek maar begin rook….

Pandora ·

Aan die redaksie:
Moet die Afrikaanse woord nie eerder Sjina wees nie, of het die spelling verander?

Megan Swart ·

Dagsê Pandora
Dankie vir jou navraag. Die jongste Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2017|) erken slegs die spelling “China”. Die wisselvorm “Sjina” en “China” was nog in die 2009-AWS, maar “Sjina” het sedertdien in onbruik verval.
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Pandora ·

Goeiedag Megan,

Baie dankie! Die positiewe kommunikasie met die Maroela span is altyd welkom en ek waardeer die moeite waarmee jy die vraag beantwoord het. Nou leer ons ook weer iets… :)
Groete,

Luister ·

Ek verstaan net nie mooi hoekom maak Musk ‘n reuse sprong op 27 Mei, terwyl die vuurpyl op 29 Mei gelanseer word nie. Mis ek iets?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.