Musk praat openlik oor Asperger-sindroom

Elon Musk. (Foto: Odd Andersen/AFP)

Die Tesla-hoof en entrepreneur Elon Musk het in ʼn episode van die Amerikaanse TV-program Saturday Night Live (SNL) onthul dat hy aan Asperger-sindroom ly.

Die 49-jarige Musk het aan kykers van die komediesketsprogram gesê hy is “die eerste persoon met Aspergers” om dié program aan te bied.

Dit is die eerste keer dat Musk openlik oor dié sindroom praat. Ander bekende gashere van SNL sluit in Adele, Chris Rock, Ringo Starr en Will Ferrell.

“Ek het nie altyd baie intonasie of variasie in hoe ek praat nie en ek hoor dit is wonderlik vir goeie komedie,” het hy skertsend sy monoloog geopen.

“Ek maak eintlik vanaand geskiedenis as die eerste persoon met Aspergers om SNL aan te bied.”

Hy is luid deur die gehoor toegejuig. Sommige mense het egter dié mylpaal op sosiale media in twyfel getrek. Hulle het daarop gewys dat die komediant Dan Akroyd al die program aangebied het en dat hy voorheen openlik oor sy ervaring met Tourette- en Asperger-sindroom gepraat het.

Musk, wat meer as 53 miljoen volgelinge op Twitter het, het ook geskerts oor sy gebruik van sosiale media. Hy is voorheen deur kritiek en regsdreigemente in die gesig gestaar weens sy inskrywings op dié platform.

“Kyk, ek weet dat ek soms snaakse dinge kwytraak, maar dit is net hoe my brein werk. Aan enigiemand wat in die gesig gevat is, wil ek net sê dat ek voertuie herontwerp het en ek stuur mense Mars toe in ʼn ruimtetuig. Het jy gedink ek gaan net ʼn rustige, normale ou wees?”

Sommige mense met Asperger-sindroom kies om die term te gebruik, terwyl ander verkies om na hulself te verwys as outisties of “op die outisme-spektrum”.

Mense met Asperger-sindroom kommunikeer soms verbaal- en nie-verbaal moeilik en het soms tyd nodig om inligting te verwerk. Hulle sukkel dalk ook om hulle gevoelens op ʼn konvensionele manier uit te druk, maar kan besonder empaties en emosioneel ingesteld wees.

Baie mense met Asperger-sindroom het intense en hoogs gefokusde belangstellings, wat in meeste gevalle tot ʼn loopbaanrigting lei.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Keith ·

Maybe… just maybe, if he smoked less “weed” he’d feel better already. A few years ago he proudly announced on a TV show that he was in fact a “weed” smoker. Ja Nee.

Jacobus ·

Wat ‘n helder klank van self-erkening. Miskien as ons regering hulself kan ontbloot vir wat hulle is – geldbehepde onbevoegdheid. En dat korrupsie hulle enigste saambindende “talent is”.

Zani2106 ·

Ek voel so trots dat hy deel met die wereld dat hy op die spektrum is . ek as n mamma van n klein dogterjie van 3 wat op die spektrum is voel daar is moet om te lees hoe sulke man wat baie bereik het n moetiveering is vir ons mense en kidertjies wat op die spektrum is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.