Musk van ‘piramideskema’ beskuldig

Elon Musk. (Foto: Brendan Smialowski / AFP)

ʼn Belegger in die kripto-geldeenheid Dogecoin het Donderdag ʼn $258 miljard-regsgeding teen die miljardêr Elon Musk en sy maatskappye Tesla en SpaceX aanhangig gemaak.

Keith Johnson, ʼn belegger wat geld verloor het nadat hy in Dogecoin belê het, beskuldig Musk daarvan dat hy ʼn piramideskema bestuur het deur dié kripto-geldeenheid te ondersteun.

Johnson vra nou dat sy mosie, wat by ʼn hof in New York ingedien is, geklassifiseer word as ʼn klasaksie-geding namens diegene wat sedert 2019 verliese gely het nadat hulle in Dogecoin belê het.

Johnson skat beleggers het sowat $86 miljard verloor sedert Musk Dogecoin begin bevorder het. Hy versoek nou dat die miljardêr dié bedrag plus dubbel die skadevergoeding –  ʼn bykomende $172 miljard – aan beleggers betaal.

Dogecoin is in 2013 gestig. Volgens die skeppers van Dogecoin was die kripto-geldeenheid aanvanklik bedoel as ʼn ironiese reaksie op twee groot internetverskynsels: kripto-geldeenhede soos bitcoin, en ʼn meme-beeld van ʼn Shiba Inu-hond.

Die prys van Dogecoin het vir die grootste deel van sy bestaan teen slegs breukdele van ʼn sent verhandel.

Die waarde van Dogecoin het egter verlede jaar skielik opgeskiet (tot $0,73 in Mei 2021) nadat Musk humoristiese boodskappe daaroor op sosiale media gedeel het. Musk het egter heeltemal opgehou om kommentaar hieroor te lewer en die waarde van Dogecion het sedertdien weer dramaties geval.

Die kripto-geldeenheid was teen Donderdag egter minder as ses sent werd.

Musk word nou daarvan beskuldig dat hy en sy maatskappye Tesla en SpaceX Dogecoin bevorder het om voordeel te trek uit sy verhandeling.

“Musk het sy voordeel as die wêreld se rykste man gebruik om die Dogecoin-piramideskema te bedryf en te manipuleer vir wins, blootstelling en vermaak,” voer Johnson aan.

Johnson glo Musk het “die prys, markkapitalisasie en handelsvolume van Dogecoin” verhoog deur sy bevordering daarvan.

Hy het ook twiets van Musk, wat meer as 98 miljoen volgelinge op Twitter het, in sy mosie ingesluit waarin Musk onderneem het dat SpaceX “ʼn letterlike Dogecoin op die letterlike maan sal plaas”.

Tesla word ook in die mosie genoem aangesien die maatskappy Dogecoin as betaling vir sekere afgeleide produkte aanvaar. SpaceX is ook ingesluit omdat hy een van sy satelliete na Dogecoin genoem het.

Johnson vergelyk Dogecoin met ʼn piramideskema aangesien die virtuele geldeenheid geen intrinsieke waarde het nie en ook nie ʼn produk is nie. Boonop word dit nie deur ʼn tasbare bate gerugsteun nie en die aantal “munte” is onbeperk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nick ·

Ek kan nie verstaan hoe ‘n ou wat op ‘n twiet van ‘n ander persoon miljarde gaan belè in die eerste plek die tipe geld bymekaar gemaak het nie? A fool and his money……

Sniperwolf ·

Hy het nie miljarde belê nie. Dis ‘n klasaksie namens ‘n groep beleggers. Super rykes kan markte beinvloed deur dit positief te onderskryf soos Musk gedoen het. Musk het waarskynlik self belê en geweet dat sy onderskrywing die eenheid positief sou laat groei. Nadat hy ‘n wins getoon het, het hy onttrek en sy twiets het opgedroog. Dit het veroorsaak dat die eenheid drasties val. QED

JohanR ·

Se in Engels…..is Musk spreading himself to thin? Jy kan net soeveel ysters in die vuur he!

Hennie ·

Groei ‘n paar Keith… Jy gaan nog meer geld verloor op ‘n gulsige regspan!

Koos 100 ·

As ek geld het om te belê in enige iets, sal ek alles in my vermoë doen om die geld te laat groei. Hoekom mag hy nie? Daai naam moes hom al laat dink het. Hulle speel mos dodgeball daar???

melaney ·

Dit lyk vir my om die wêreld se rykste man te wees, nie altyd ‘n goeie ding is nie. Almal wil ‘n stuk van die koek hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.