’n Donker (rook)wolk hang bo Australiese Ope

Indien die luggehalte nie verbeter nie, kan die Australiese Ope in Melbourne gekanselleer word. Foto: Twitter.

Swak luggehalte het vir die tweede agtereenvolgende dag gesorg dat ’n donker wolk bokant die Australiese Ope in Melbourne hang.

Vandag se kwalifiserende wedstryde is drie uur lank uitgestel as gevolg van die swak luggehalte wat weens die verwoestende veldbrande veroorsaak word.

Die brande woed sedert September en benewens die 28 mense wat reeds omgekom het, het ’n area van 10 miljoen hektaar – ’n gebied groter as Portugal – in die slag gebly. Volgens kenners het ongeveer een miljard diere reeds omgekom, terwyl verskeie dier- en plantsoorte op die bedreigdespesielys geplaas is.

Die brande het ook ’n impak op die komende Australiese Tennisope in Melbourne met verskeie spelers wat oor die luggehalte in die kwalifiserende rondes kla.

Gister moes Slowenië se Dalila Jakupovic noodgedwonge haar kwalifiserende wedstryd prysgee toe sy dit nie langer op die baan kon uithou nie.

“Dit het gevoel asof ek enige oomblik kan omkap,” het sy ná die tyd gesê.

Serwië se Novak Djokovic. (Foto: Christophe Ena, AP)

Volgens die Ope se amptelike webtuiste word die luggehalte gereeld gemonitor en kundiges – wat mediese personeel, lede van die Australiese Weerburo en wetenskaplikes insluit – gebruik dan hierdie data om die volgende stap te bepaal.

Verskeie top-spelers, onder wie Novak Djokovic, het hul kommer oor die toernooi uitgespreek.

“As die toestande die spelers se gesondheid beïnvloed, moet ons definitief daaraan dink om die toernooi te kanselleer,” het Djokovic gesê.

Hoewel dit steeds ondraaglik warm is, het ’n welkome donderstorm vandag darem effense verligting so tussendeur die rook gebring.

Van die spelers wat weens die luggehalte gesukkel het, is Maria Sharapova en Eugenie Bouchard.

  • Roger Federer, Djokovic, Rafael Nadal, Serena Williams, Naomi Osaka en ander top-spelers sal deel wees van die Rally4Relief-vertoonwedstryde. Dié inisiatief sal poog om geld ten bate van die brandslagoffers in te samel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willa Olivier

Sal dit nie help as hulle die dak toe maak nie?

Johan Venter

Ek haal aan: “As die toestande die spelers se gesondheid beïnvloed, moet ONS denitief daaraan dink om die toernooi te kanselleer,” het Djokovic gesê. Né, so asof hy deel van die bestuur van die Aussie Ope is. Dat daaraan gedink sal moet word om die toernooi te kanselleer as mense se gesondheid in gevaar is, is verseker, maar Djokovic kan sekerlik net saam met die ander spelers vertoeë rig. Hy is net ‘n speler, hy dien nie op die raad van die ITF, wat die Grand Slam toernooie aanbied, nie.

Wim de Kock

1 Miljard of dan biljoen diere dood, ek het nie gedink dat daar soveel diere in die hele wêreld is nie. Wat tel die ouens miere, luise, ens??

Johan Venter

Nou wil ek weet, nav die meisie wat gevoel het sy wou in haar wedstryd omkap en moes toe touopgooi, ongeag of die lug vir haar ‘n gesondheidsrisiko ingehou het al dan nie, hoeveel mense moet dan nou voel of hulle wil omkap of voel hulle word beinvloed en kan nie hul beste gee nie, voor daar besluit word genoeg is genoeg. Is die maatstaf die vlakke van besoedeling wat met instrumente gemeet word om te bepaal of dit ‘n gesondheidsrisiko inhou, of die individeule mens se liggaam se reaksie daarop en wat dit nie kan hanteer nie. Dokovic het… Lees meer »