‘n Handjie vol state sal die uitslag van die VSA-verkiesing bepaal

Individue wat Amerikaanse politiek volg sal onthou dat George W. Bush in 2000 die Amerikaanse president geword het ten spyte daarvan dat hy 500 000 minder stemme as sy mededinger Al Gore gekry het. Die afgelope paar weke begin Mitt Romney in ‘n meerderheid van nasionale peilings voor te loop teen Barack Obama en staan hy ‘n billike kans om op 6 November meer stemme as Obama op hom te verenig. Dit beteken egter glad nie dat hy die verkiesing gaan wen nie.

Soos in ‘n vorige artikel genoem word die wenner van verkiesings in die VSA deur ‘n kieskollege aangewys. Elke staat kry ‘n aantal afgevaardigdes volgens die bevolkingsgetal van die staat met ‘n minimum van 3 stemme vir state soos Wyoming, Alaska en North Dakota wat baie klein bevolkings het. Vir ‘n kandidaat om te wen moet hy 270 stemme uit die kieskollege op hom verenig. Hy moet dus ‘n kombinasie van state wen waarvan die totale aantal afgevaardigdes tot die kieskollege 270 of meer is.

Met minder as twee weke oor voor die verkiesing is die uitslag in minstens 42 van die 50 state van die VSA eintlik reeds bekend. Daar bestaan ‘n toenemende tendens in die VSA van konserwatiewe state (in die Suide en Westelike binneland) wat konserwatiewer raak en in groter getalle vir Republikeinse kandidate stem terwyl liberale state (in die Noord-Ooste, om die groot mere en aan die Weskus) toenemend meer liberaal raak. Dit is asof konserwatiewe mense verkies om in konserwatiewe state te gaan woon en liberal mense in liberale state. Dit veroorsaak dat presidentskandidate en hul onderskeie veldtogte die uitslae in ‘n groot meerderheid van state van die staanspoor af aanvaar en slegs op enkele state met ‘n redelike gelyke verdeling tussen konserwatiewe en liberale inwoners fokus.

In vanjaar se verkiesing sal die uitslag dus grootliks deur die kiesers in die volgende agt state beslis word:

Ohio
Ohio is die belangrikste staat in vanjaar se verkiesing. ‘n Mens kan byna sonder twyfel sê dat die kandidaat wat Ohio wen die verkiesing sal wen. Ohio is ‘n ou nywerheidstaat in die midweste van die VSA met groot nywerhede in die noorde en steenkoolmyne in die suid-ooste. Weens die aard van Ohio se ekonomie is ‘n groot deel van kiesers hier bloukraagwerkers. Die staat se bevolking neem reeds vir jare af en vanjaar is Ohio se aantal stemme in die kieskollege tot 18 verminder. Dit beteken egter nie dat die staat nie belangrik is nie. Geen Republikeinse kandidaat het nog ooit die verkiesing sonder Ohio gewen nie. Sedert 1960 het elke wenner (insluitende Demokrate soos Carter en Clinton) ook Ohio gewen. Die sleutel tot ‘n wen in Ohio is veral wit werkersklaskiesers.

Iowa
Hierdie kleinerige staatjie in die midweste is bekend vir sy groot graanboere. Die konserwatiewe platteland in Iowa word teengewerk deur liberale inwoners in Des Moines wat ‘n groot aantal studente op universiteitskampusse insluit. Die sleutel tot ‘n oorwinning in Iowa is die groeiende voorstedelike jonger gesinne.

Wisconsin
Tot onlangs was Wisconsin bekend as ‘n liberale staat en geen Republikein kon sedert 1988 hier wen nie. Vanjaar lyk dit egter na ‘n kop-aan-kop stryd en die staat is bekend vir sy konserwatiewe en jeugdige goewerneur Scott Walker wat in 2010 verkies is en vroeër vanjaar heel maklik ‘n poging deur vakbonde en liberale drukgroepe om hom in ‘n herverkiesing te laat herroep, oorleef het. Wisconsin neig toenemend meer konserwatief en Mitt Romney sien hier ‘n geleentheid om 10 stemme in die kieskollege op te tel.

New Hampshire
Die Noordweste van Amerika is bekend vir sy liberalisme en New Hampshire staan omtrent uit tussen ‘n see van ‘blou’ state. In 2000 kon George Bush New Hampshire wen, maar in 2004 en 2008 het die Demokrate hier geseëvier. New Hamsphire is bekend as ‘n meer libertynse staat met baie lae belasting. Die staat se inwoners neig meer liberaal op sosiale kwessies, maar ondersteun die Republikeinse Party se ekonomiese beleid. Mitt Romney se sterk fokus op ekonomiese sake mag hier die deurslag gee.

Virginië
Eens ‘n bastion van konserwatiewe politiek is Virginië vandag ‘n kopseer vir Republikeine. Die grootste deel van die staat is steeds baie konserwatief, maar die probleem is reg in die noorde waar staatsdienswerkers wat in die land se hoofstad, Washington D.C. werk, hulself toenemend vestig. Soos wat die regering in D.C. uitbrei brei die voorstede in die noorde van Virginië uit en staatsdienswerkers is bekend vir hul steun aan die Demokrate. Romney loop tans hier voor en behoort Virginië met ‘n kort kop te wen nadat Obama in 2008 die eerste Demokraat sedert 1964 geword het om dié staat te wen.

Florida
In 2000 het Bush Florida met 500 stemme uit ‘n totaal van amper 6 miljoen gewen. Sedertdien is Florida bekend vir sy swaaipolitiek. Florida is die staat in die VSA met die meeste afgetrede mense wat natuurlik vir die Republikeine baie help. Die staat se groot swart en ook Joodse bevolking stem vir Demokrate. Die kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms is redelik verdeel met persone van Kubaanse afkoms wat tradisioneel die Republikeinse ondersteun en persone van ander lande wat toenemend vir Demokrate stem. Mitt Romney behoort Florida te wen indien hy enigsens ‘n kans wil staan om die verkiesing te wen.

Colorado
Colorado was ook eens ‘n sterk vesting van konserwatisme. Denver, die hoofstad, het egter die afgelope dekade sterk uitgebrei met talle maatskappye uit Kalifornië wat daar hervestig het. Daarmee saam het liberale kiesers van die Weskus af soontoe getrek. Colorado het ook een van die vinniggroeiendste bevolkings van Latyns-Amerikaanse afkoms en veral Mexikane wat burgerskap verkry stem in ‘n blok vir die Demokrate. Obama het in 2008 verbasend maklik hier gewen, ten spyte daarvan dat Bush in 2000 en 2004 weer maklik gewen het. Romney sal ook Colorado moet wen om enigsens ‘n kans te staan om die verkiesing te wen.

Nevada
Met meer as 70% van Nevada se inwoners wat in Las Vegas woon sal Mitt Romney hier op die jonger voorstedelike kieser moet fokus om ‘n kans te staan om te wen. Peilings toon tans dat Obama met omtrent 5% voorloop en met ‘n jonger, meer liberale en meer diverse bevolking gaan dit baie moeilik vir Romney wees om hier te wen.

Die probleem vir Romney en Republikeine is dat Obama in 2008 al agt hierdie state gewen het. Vir Romney om te wen sal hy minstens ses van die agt genoemde state moet wen en verkieslik Ohio en Florida. Sonder Florida is daar byna geen manier hoe Romney kan wen nie en indien hy Ohio verloor moet hy beide Wisconsin en Nevada wen, iets wat nie onmoontlik is nie, maar baie moeilik gaan wees.

Om by 270 stemme in die kieskollege uit te kom gaan dus vanjaar vir Romney baie moeiliker as vir Obama wees. Ons kan dus ‘n herhaling van 2000 sien waar die een kandidaat die stemtotaal nasionaal wen, maar steeds die verkiesing verloor.

Klik hier om die vorige artikel te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.