ʼn Vyfde van reptiele kan uitsterf

(Foto: Pierre Bamin/Unsplash)

Die eerste groot globale opname van die wêreld se sogenaamde koelbloedige wesens het ʼn skokbevinding gemaak oor die koers waarteen reptielspesies deur uitsterwing in die gesig gestaar word.

Volgens die opname word minstens een uit vyf reptielspesies deur uitwissing bedreig, insluitend meer as die helfte van alle soorte skilpaaie en krokodille.

Katastrofiese afnames in biodiversiteit regoor die wêreld word toenemend gesien as ʼn bedreiging vir lewe op aarde en hoewel die bedreiging van ander diere goed gedokumenteer is, het navorsers tot nou toe nie ʼn omvattende beeld gehad van die verhouding van reptiele wat in gevaar is nie.

In die nuwe globale assessering, wat in die vaktydskrif Nature gepubliseer is, het navorsers meer as 10 000 reptielspesies geëvalueer volgens die kriteria van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUCN) se rooi lys van bedreigde spesies.

Navorsers het bevind dat minstens 1 800 reptielspesies, oftewel 21% daarvan, óf kwesbaar, bedreig óf kritiek bedreig is.

“Dit is oorweldigend om die aantal spesies wat bedreig is te sien,” sê die medeleier van die navorsing, Neil Cox, wat ook die IUCN se bewarings en biodiversiteit assesseringseenheid bestuur.

“Nou weet ons wat die bedreigings is wat elke reptielspesie in die gesig staar en wêreldgemeenskappe kan eindelik begin om die volgende tree te gee en in die ernstige biodiversiteitskrisis te belê.”

Volgens Cox is daar ook bevind dat 58% van krokodil- en 50% van skilpadspesies bedreig word. Dié syfers is weens herhaalde misbruik van die spesies.

Krokodille word dikwels doodgemaak vir hul vleis en om hulle uit menslike nedersettings te verwyder, terwyl skilpaaie deur onwettige troeteldierhandel geteiken word en vir tradisionele medisyne gebruik word.

Slange ook nie veilig

(Foto: Hendrik Schlott/Unsplash)

Nóg ʼn bekende spesie wat bedreig word, is die gevreesde koningkobra wat die wêreld se grootste giftige slang is.

Dié slange kan tot vyf meter lank word en smul aan ander slange. Hulle word ook dikwels in woude van Indië tot Suidoos-Asië aangetref.

Die koningkobra word as kwesbaar geklassifiseer wat beteken dat hy “baie naby aan uitwissing is”, het Cox gesê. “Dit is ʼn ware ikoniese spesie in Asië en dit is ʼn skande dat spesies soos hierdie erg bedreig word.”

Cox het bygevoeg dat doelbewuste aanvalle deur mense een van die grootste bedreigings is wat hierdie slang in die gesig staar.

Bruce Young, hoofdierkundige by NatureServe en medeleier van die navorsing, sê ander bedreigde reptiele word grootliks in Suidoos-Asië, Wes-Afrika, die noorde van Madagaskar, die Noordelike Andes-gebergte en die Karibiese Eilande aangetref.

Die navorsers het bevind reptiele wat beperk is tot droë habitatte soos woestyne, grasvelde en savannas is aansienlik minder bedreig as dié wat in woudhabitatte te vinde is.

Dit het ook aan die lig gekom dat landbou, bosbou, indringerspesies en stedelike ontwikkeling van die grootste bedreigings vir reptiele is, asook mense wat hulle teiken vir dierehandel of hul doodmaak uit vrees.

Hiermee saam is klimaatsverandering skynbaar ook ʼn direkte bedreiging vir sowat 10% van reptielspesies, hoewel navorsers meen dat hierdie persentasie waarskynlik ʼn onderskatting is omdat dit nie langtermynbedreigings soos indirekte klimaatgedrewe gevare soos siektes in berekening bring nie.

Volgens die navorsers het die bewaring van soogdiere, voëls en amfibieë ook die beskerming van reptiele tot ʼn mate bevoordeel. Dit is egter duidelik dat daar ʼn dringende behoefte is om sommige reptielspesies met ywer te bewaar.

Reptiele word vergeet

Volgens Young het hierdie opname, wat honderde navorsers van regoor die wêreld ingesluit het, sowat 15 jaar geneem om af te handel, juis weens ʼn tekort aan finansiering.

“Vir baie mense is reptiele nie charismaties nie, so daar word baie meer gefokus op van die meer harige of veeragtige gewerwelde diere wanneer dit kom by bewaring,” sê hy.

Navorsers hoop dat die nuwe opname sal help om internasionale optrede aan te spoor om reptiele se verlies aan biodiversiteit te stuit.

Byna 200 lande is reeds besig met globale biodiversiteitsgesprekke in ʼn poging om die natuur, asook 30% van die aarde se oppervlakte teen 2030 te beskerm.

“Deur navorsing soos hierdie adverteer ons die belangrikheid van hierdie wesens. Hulle is deel van ons lewe en net soos enige ander wese verdien hulle die nodige aandag,” sê Young.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.