Ná amper ses maande weer ʼn groot aardbewing

ʼn Gebou wat ineengestort het in Amatrice, Italië op Woensdag, 24 Augustus 2016. Foto: AP Photo

Op 22 Julie sou dit presies ses maande gewees het sedert die aarde ʼn groot aardbewing van M7 of meer beleef het.

Dié afwesigheid van groot aardbewings is egter pas kortgeknip toe ’n skudding van 7,7 by een van die Russiese eilandjies voorgekom het wat soos ’n boog van Siberië na Alaska strek. Die aardbewing was 198 kilometer Oos-Suidoos van Nikol’skoye.

Minstens 11 naskokke van M4,5 of meer het ná dié groot aardbewing gevolg. Die sterkste hiervan was M6,2.

Die aardbewing se episentrum was 11 km onder die oppervlak, en sou aansienlike skade en lewensverlies kon veroorsaak as dit in ’n digbeboude gebied voorgekom het. Die onherbergsame eilande is egter hoofsaaklik onbewoon.

Dit was maar die derde aardbewing van meer as M7 vanjaar. Gewoonlik is daar in die orde van 17 sulke aardbewings per jaar.

Volgens vergelykende syfers was daar tot dusver ook minder aardbewings van ander sterktes vanjaar.

Die enigste ander beduidende aardbewing die afgelope 24 uur het in Peru voorgekom. Dié skudding van M6,4 het byna 100 km van Camana voorgekom.

Bronne USGS hier en hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Veronica ·

Stilte voor die storm . . .
Iets is aan die broei
Grote is dalk nader as wat ons dink

Rupert Ashford ·

Hulle is bang vir ‘n baie grote saam met vulkaniese uitbarsting (iets soos krakatoa) by Yellowstone. Die swak sonaktiwiteit van die huidige sonsiklus beduiwel blykbaar die aarde nogal baie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.